Gedagte vir die dag | Donderdag 9 Desember 2021

 

Prediker 12:13. Die slotsom van alles wat jy gehoor het is dit: Dien God en gehoorsaam sy gebooie. Dit is wat van die mens gevra word.

Prediker het baie diep nagedink oor die sin van die lewe. Hy deel met ons ’n klomp onsinnige dinge waarmee ons kan identifiseer en kom dan aan die einde tot die slotsom dat elke sekonde van tyd – goed of sleg – uiteindelik deel is van dieselfde geskenk van lewe. Die pad na hierdie insig beskryf hy dan aan die einde van die boek Prediker as sogenaamde “gehoorsaamheid aan God”.

Ons geloof in God is nie ’n teoretiese troos en hoop nie. Dit kry gestalte wanneer ons onsself toewy daaraan om in elke omstandigheid van die lewe na die wil van die Here te vra en dit op ’n praktiese manier te laat gestalte kry.  Dit is juis in hierdie ‘doen’ of dan gehoorsaamheid waarin die Here dikwels die lewe vir ons ontsluit.  Wat vra die Here vandag van jou? Is dit wat jy vandag moet doen so onduidelik?  Dink mooi daaroor na, dit is waarskynlik nie iets buite jou bereik is nie. ’n Mens kan vir lank bly vashaak by die onsinnigheid van die lewe. Dien die Here deur eenvoudig dit te doen wat hy vandag op jou hart lê.  Mag die Here dan in hierdie daad die lewe wat sin gee vir jou en ander kom oopsluit.

Gebed

Here, ons word deur so baie onsin omring wat ons denke en optrede bepaal. Ons kan vir lank in die lewe bly vashaak by gedagtes wat ons nêrens anders bring as om te kritiseer, of pessimisties te wees nie. Gee my in hierdie dag ’n sin vir die lewe wat op my lê en wag.  Lê in my gedagtes hoe ek vandag behoort te dink en te reageer en help my om elke situasie te kan onderskei, sonder dat die vrees en frustrasie in my oorneem.  Aan U Here, wat die lewe elke dag vir my nuut kom oopbreek kom die lof toe.

AMEN.