Johannes 1:1 en 4. In die begin was die Woord daar, en die Woord was by God, en die Woord was self God. In Hom was daar lewe, en die lewe was die lig vir die mense.
Hoe presies lewe en die aarde ontstaan het is iets wat die slimste mense laat kopkrap. Ten spyte daarvan, kan die eenvoudigste mens diep onder die indruk van die betekenis daarvan kom. Is hierdie gedagte nie wonderlik nie! Lewe op aarde is nie ’n verhaal ter wille van oorlewing nie, maar van “beleef” en “herleef”. Daar is telkens nuwe dimensies en geheime van die lewe en skepping wat vir mense oopbreek. Ons ervaar dit in oomblikke van insig, vergifnis, dankbaarheid en liefde soos die alledaagse lewe met ons gebeur. Dit is waaroor Johannes in ons teksgedeelte beskryf.
Moenie toelaat dat moedeloosheid oor jou spoel as jy sukkel om van jou hede en lewe sin te maak nie. Die God wat bo menslike verstand in die begin alles gemaak het is vir jou lig. Sien dit vandag weer raak in die gebeure wat jou pad kruis. In elke oomblik van die allesdaagse ontsluit die Here die diep geheimenisse van die skepping vir ons.
Gebed
O genadige en heilige Vader, gee my die wysheid om iets van U raak te sien; die intelligensie om iets van U te verstaan; die ywer en geduld om op U te wag; ’n hart wat oor u liefde en heiligheid nadink en ’n lewe wat u grootheid verkondig. Ek vra dit deur die krag van die Gees van Jesus Christus. AMEN.