Gedagte vir die dag | Dinsdag 21 Desember 2021

 

Ons sluit vandag hierdie reeks dagstukkies af met die besef dat Kersfees nie net ’n tyd van heel wees, goue geskenke, Kersvaders en Kersliedjies is nie. Dit is ’n tyd wat ons kom bewus maak van ons vrese, tekortkominge,  seer, die mense om ons en die vuil paaie waarop ons vlug.

Kersfees is die fees wat ons opnuut bewus maak dat God mens geword het, in ons konteks en lewens kom inklim het en nie vir goedkoop welvaart aan ons kom verkoop het nie. Maar vir jou kom groet soos Maria: “Ek groet jou, begenadigde! Die Here is by jou.”

By jou in die konteks en die situasie waar jy jouself bevind.

Ek sluit af deur om Maria se loflied in Lukas 1 :46-56 vir jou te lees

Mag jy ’n ware mensgebore Kersfees beleef:

46En Maria het gesê: “Ek besing die grootheid van die Here,

47ek juig oor God, my Verlosser,

48omdat Hy na my

in my geringheid omgesien het.

Kyk, van nou af sal elke nuwe geslag my gelukkig noem,

49omdat Hy wat magtig is,

groot dinge aan my gedoen het.

Heilig is sy Naam!

50Hy bewys ontferming

van geslag tot geslag

aan dié wat Hom eer.

51Kragtige dade het Hy met sy arm verrig:

hoogmoediges in hulle eiewaan

het Hy uitmekaargejaag;

52maghebbers het Hy van trone afgeruk en geringes verhoog;

53behoeftiges het Hy oorlaai met goeie gawes

en rykes met leë hande weggestuur.

54Sy dienaar Israel het Hy te hulp gekom

deur te dink aan sy beloftes van ontferming

55soos Hy dit toegesê het aan ons voorvaders,

aan Abraham en sy nageslag

tot in ewigheid.”

56Maria het omtrent drie maande by Elisabet gebly en daarna teruggegaan huis toe.

AMEN