Ek het altyd gehou van die Kersfeesopvoerings wat by kerke en skole in die laaste kwartaal van die jaar aangebied is. Omdat ek self nie ’n goeie akteur was nie het ek gewoonlik maar die rol van ’n kameel of een van die sterrekykers vertolk – verkieslik een van die sterrekykers wat nie iets gesê het nie, maar moes help om die sak te dra. Waarvan ek gehou het was die uitbeelding van Jesus wat gebore word in ‘n stal tussen diere, in ’n krip. Dit is die ware boodskap van kersfees. Die idee dat Jesus na ons toe kom op hierdie vuil en onbelangrike manier.
Kersfees is die verhaal van hoe Jesus na ons toe kom, onmiddellik na Jesus se geboorte moet Maria en Josef met Jesus vlug. Kom ons lees saam:
Matteus 2:16-18. 16Toe Herodes agterkom dat die sterrekykers hom in die steek gelaat het, het hy woedend geword. Hy stuur toe soldate en laat in Betlehem en die hele omgewing al die seuntjies van twee jaar en jonger doodmaak, ooreenkomstig die tyd wat hy noukeurig by die sterrekykers uitgevra het. 17Toe is die woord vervul wat die Here deur die profeet Jeremia gesê het: 18“’n Gekerm word op Rama gehoor, ‘n gehuil en groot gejammer: Ragel treur oor haar kinders en wil nie getroos word nie, omdat hulle nie meer daar is nie.”
As ek dink aan ’n fliek wat waarlik die geboorte en koms van Jesus moes uitbeeld sou hierdie die toneel wees wat jou koud laat. Herodes vrees vir sy koningskap oor hierdie nuwe Verlosser wat op die toneel verskyn en beveel sy soldate om al die kinders onder twee jaar te vermoor. Hierdie toneel is egter waaroor Kersfees gaan, Jesus wat kom na ons toe as mens, te midde van die moord, sonde en seer van ons wêreld. Jesus het nie na ons toe gekom op ’n wit wolk met goue klere nie, maar in ’n krip, tussen diere, met bloed wat gestort word, met kinders wat vermoor word.
God kom klim in ons lewens in NET SOOS DIT IS. Waar jy jouself ookal hierdie Kerstyd bevind, wat ookal die seer en stukkende konteks is wat jy beleef weet dat jou Verlosser kom klim in daardie konteks in. Hy gee nie om hoe morsig dit is nie.
Gebed:
Dankie Here, dat U deel raak van ons baie seer en brutale kontekste. Dankie dat U dit doen om vir ons gerus te stel dat U by ons is selfs in die donkerste tye van ons lewens. Mag ons in hierdie tyd weet dat U hier is in ons seer en lyding.
Amen.