Ek dink ons is vandag bietjie meer oop daarvoor dat onmoontlike dinge moontlik kan wees. Ek is seker dat pre 1969 het niemand ooit gedink dit is moontlik om ’n mens se voet op die maan te plaas nie en toe het dit wel gebeur. Deesdae dra ’n mens ’n rekenaar so groot soos die palm van jou hand, in jou broeksak rond. Die voorheen onmoontlike is vandag meer moontlik danksy vele innovasie. As ons dink aan wonderwerke het ons ook al gehoor van wonders wat gebeur. Ek wonder somtyds of die onmoontlike vir die antieke mens juis gesetel was in die feit dat Jesus deur Maria gebore is. Dit was ’n onmoontlike situasie met ongelooflike tekortkominge. Tog kies God om binne hierdie onmoontlike situasie iets moontlik te maak. Kom ons lees saam:
Lukas 1:34-38. 34Maar Maria sê vir die engel: “Hoe is so iets moontlik, aangesien ek nog nooit omgang met ‘n man gehad het nie?” 35Die engel antwoord haar: “Die Heilige Gees sal oor jou kom, en die krag van die Allerhoogste sal die lewe in jou wek. Daarom sal die een wat gebore word, heilig genoem word, die Seun van God. 36Kyk, ‘n bloedverwant van jou, Elisabet, het in haar ouderdom self ook ‘n seun ontvang, en sy wat as onvrugbaar bekend was, is nou al in haar sesde maand. 37Niks is vir God onmoontlik nie.” 38Maria sê toe: “Ek is tot beskikking van die Here. Laat met my gebeur wat u gesê het.” Toe het die engel van haar af weggegaan.
Ek is tot beskikking van die Here, hierdie woorde van Maria resoneer met my in Kerstyd. Ons dink dat die onmoontlike moontlik word net deur God. God kies egter om ons in die Kerstyd weer bewus te maak daarvan dat Hy juis vir ons gebruik om die onmoontlike te laat gebeur. In die Kerstyd sit ’n mens terug en dink na oor die jaar. ’n Mens dink dalk by jouself dat jy hoop iemand gaan met ’n oplossing vir armoede vorendag kom, of ’n uitweg vir jou finansiële krisis, jou seer, of jou gebroke verhoudings bied. Maar dit help my om in die Kerstyd te besef dat God ons nooi om tot sy beskikking te wees, sodat ons kan deelneem aan die proses waarin die onmoontlike moontlik gemaak word. Dit was Maria se rol in Jesus se geboorte.
Mag jy in Kerstyd weer besef dat God jou nooi om deel te neem sodat die onmoontlike, moontlik gemaak kan word.
Gebed:
Here, dankie dat U ons uitnooi om deel te neem aan u wêreld. Dankie dat ons kan deel wees daarvan om die onmoontlike moontlik te maak. Dankie Here, dat U vir ons net soos Maria uitnooi in die Kerstyd deel te raak van die oplossings vir die probleme.
Amen.