Ons is steeds by die lied : Stille Nag.
Ek lees die 2de vers van hoe dit in ons liedboek 348 opgeteken is.
Stille nag, heilige nag
Hemelvors, ons gee ag
op die lied van die engelekoor
Herders het dit eerste gehoor
Juig die Redder is daar!
3de vers:
Stille nag, heilige nag
Jesus Heer, voor U mag,
voor U ryk moet die duisternis swig;
tot in ewigheid bly U die lig
Heer, gebore vir ons!
Die storie loop dat hierdie lied selfs die kanonne van die eerste wêreld oorlog in 1914 kon stilmaak. Die Duitsers het ’n boodskapper oor die niemandsland na die Engelse gestuur met ‘n uitnodiging om saam met hulle Kersliedere te sing. ’n Sekere manskap, Dawid Hatchings van die Regiment van Hampshire, het saam met hulle uit die loopgrawe geklim en die boodskapper tegemoet geloop. Hoe groot was Hatchings se verbasing toe hy agterkom die Duitser was Engels magtig. Hy het tevore in Glasgow as ’n kroegman gewerk. Terwyl hulle gesels het, het ander soldate by die twee manne aangesluit. Ander het later ook uit die loopgrawe geklim. Stille Nag is gesing, en trane het vrylik gevloei. Daar is blykbaar ooreengekom op ’n skietstaking van ’n week lank. Aan die einde van die sewe dae, het die Duitsers laat weet dat die geveg moes voortgaan, maar dat hulle kanonskote eers aspris hoog sou hou. Die Britse bevelvoerder het boodskapper met ‘n doos Engelse sjokolade na sy linnies teruggestuur.
Izak de Villiers, vertel baie mooi oor die gesprekke wat daar in die hersieningskomissie was oor die woorde en tekste van hierdie lied. Hy het vertel dat die oorspronklike Duitste teks plaas die klem op die rustigheid en stilheid van die Bethlehem-kind. Die kind Jesus wat slaap, en Maria en Josef wat wag hou. Die beswaarlikheid van die sogenaamde soetlikheid, wat nie eintlik deur die kommissie gedeel was nie, maar om dit te omseil is die woorde van die beroemde geloofsbelydenis, in die Afrikaanse weergawe gebruik: “Lig uit lig, uit die Vader se ryk, word uit liefde aan mense gelyk. Loof die Hemelse kind!”
Ons almal gaan dit in hierdie tyd saamsing. Ons gaan miskien ouers, oupas en oumas, hê wat gemis gaan word wat dit altyd saamgesing het. Ons het miskien ’n stuk nostalgie en heimweë van mense wat weg is, maar by wie ons dit geleer het. Ons kan hierdie tradisie dan voortsit, deur dit steeds te sing.
Ons sal hulle die Kersfees mis. Ons eie familie gaan kinders mis wat a.g.v. die nuwe Covid-variant nie die jaar by ons kan wees nie. Miskien sing almal wat deur die jaar van ons weg geneem is in die groot koor van die hemel voor die troon van die Lam. Miskien sing jou geliefdes saam, of neurie die lied saam waar hulle ookal is. Miskien is dit kinderagtig? Miskien is dit Heilig? Stille nag, heilige nag. Jesus kind, lank verwag, ook in my en jou lewe. Maar wat ook vir ons hoop op die toekoms kan gee.
Gebed:
Here dankie dat ons in hierdie tyd, in die besonder aan hulle kan dink wat vir ons die lied geleer het. In die omgewings en plekke waar ons hierdie lied kon sing wat ons gevorm en gemaak het. Dit het amper deel van ons DNA geword om in die Jesuskind te kan glo ten spyte van allerhande stemme van ongeloof om ons. Dankie vir die Jesuskind wat ons in hierdie tyd kan herdenk, en dat Hy opnuut in ons harte weer gebore kan word.
Amen.