Johannes 2:7. Jesus sê toe vir die kelners: “Maak die kanne vol water!” Hulle het dit tot heel bo vol gemaak.
GEDAGTE
Troues in die ou nabye Ooste was ’n ongelooflike belangrike geleentheid net soos in ons moderne tye vandag. Vir Jode was ’n troue ’n feestelike geleentheid.
Toe die wyn in Kana opraak, is die voortgang van die fees in gedrang. Dit is ’n groot krisis. Wyn was immers die drank van feesviering in die antieke wêreld. Jesus se moeder vestig sy aandag op die gebrek aan wyn.
Merkwaardig genoeg gebruik Jesus die reinigingswater by die fees om die wyn van te maak. Die water was nodig vir die Joodse rituele reiniging. Die hande en voete word gewas voordat mense kan aansit vir die feesmaal. Dit was nodig omdat mense van ver gekom het. Dink maar aan die oop sandale en die stofpaaie van Israel.
Die reiniging het ook godsdienstige betekenis gehad. Die Jood berei hom ook voor om God in die feesmaal te ontmoet. Die Ou Testamentiese lering het voorgeskryf dat iemand rein moes wees, om naby God te kom. Vir die Jode het alles oor reinheid gegaan. Voor jy kon eet, moes jy eers ‘rein’ wees. Voor jy aan ’n troue kon deelneem, moes jy eers ‘rein’ wees. En om ‘rein’ te wees, moes jy jou met ‘rein’ water was.
By Kana vat Jesus egter die reinigingswater weg, en omskep dit in ‘n wyn vir feesviering. Dit het diep simboliese betekenis. Jesus neem self verantwoordelikheid vir die reiniging van mense. Deur Hom word ons gereinig en kan ons voor God verskyn. Nou is daar nie meer die fisiese reinigingswater in die klipkanne by die ingange nodig wat mense rein maak voor God nie. Dit is Jesus self wat ons deur Sy bloed rein maak.
Dit gaan dus nie meer daaroor of jou hande skoon is nie, maar of jou hart skoon is. Die ingang tot die bruilof is nie meer skoon hande nie, maar skoon harte.
GEBED
Here, skep vir my ’n rein hart o, Here. Vernuwe my gees en mag ek skoon gewas voor U staan.
Amen