Gedagte vir die dag | Maandag 29 November 2021

 

1 Tes 4:1.  1Ten slotte, broers en susters, vra ons julle en spoor ons julle aan om as deel van julle verhouding met die Here Jesus julle leefstyl in te rig volgens die voorskrifte wat julle van ons ontvang het oor hoe julle moet lewe om God gelukkig te maak. Julle doen dit ook, maar lê julle nóg meer daarop toe.

Jesus sê in Lukas 6:43-45 dat ’n boom aan sy vrugte geken word. Net so word ware wedergebore kinders van die Here geken aan hulle Christelike leefwyse en die karaktereienskappe (vrugte) wat dit voortbring. Onthou dat ’n Christelike Leefwyse beteken dat ons in alle opsigte die karaktereienskappe wat pas by ’n Christelike leefwyse met entoesiasme moet uitleef. Ons moet geken word aan die vrugte wat ons dra en uit die gesprekke wat ons voer.

Die Westminster Shorter Catechism sê, “Man’s chief end is to glorify God and to enjoy Him forever.” ’n Lewe wat vir God geleef word, verheerlik God. Ons volg God met ons hele wese na – hart, siel, verstand en krag. Ons bly in Christus en daarom tree ons soos Hy op, deur mekaar lief te hê. Deur dit te doen, vereer ons Sy Naam. Die grootste uitdaging vir elkeen van ons, is om volgens die wil van God te lewe.

Die vraag wat ek dus vandag vir jou wil vra is: “Tot watter mate leef jy volgens die wil van God?” Kan mense in jou lewe sien dat jy God se kind is en dat daar ’n verandering in jou lewe plaasgevind het? Vandag se teks roep ons weer op om ’n leefstyl te leef wat God gelukkig maak. God se woord is duidelik daaroor oor hoe so ’n leefstyl lyk. 

 

GEBED

Neem my lewe laat dit Heer
U gewy wees meer en meer
Laat my hart gedurig juig
En van dankbaarheid getuig

Neem my hande, maak hul sterk
Diensbaar in U goeie werk
Neem my voete skoei hul Heer
Met bereidheid tot U eer

Neem my stem en laat my sing
Aan U Here hulde bring
Laat my mond die boodskap dra
Hul sal vind wat na U vra

Neem my goud en silver Heer
Niks noem ek my eie meer
Al my kennis en verstand
Stel ek in U Vaderhand

Maak my hart vir U tot troon
Deur U Gees wat in my woon
Rig my wil gevoel en daad
Altyd na U wyse raad

Neem my lewe laat dit Heer
U gewy wees meer en meer
Laat my hart gedurig juig
En van dankbaarheid getuig