Deur: Ds. Marius Breytenbach
Na meer as 18 maande van konstant veranderende Covid-19-grendelmaatreëls, waartydens ons noodgedwonge aanpassings aan eredienste moes maak, hoop ons om in 2022 uiteindelik weer terug te keer na ons ou eredienstye. Ons is baie dankbaar dat ons ten spyte van die uitdagende omstandighede die afgelope aantal maande, steeds met ons oggend-, familie- en meditatiewe dienste, asook die Relevantdiens, kon voortgaan. Dankie vir almal se geduld en meelewing die afgelope byna twee jaar.
Ons keer egter nie net bloot terug na hoe dienste voor die inperkingmaatreëls was nie. Die Here het ons almal sedertdien op verskillende wyses verander. Om op ’n Sondag kerk toe te gaan is iets wat ons voorheen as vanselfsprekend aanvaar het. Elke keer wanneer ons as predikante op ’n Sondag voor ’n handjie vol mense in die kerk en ’n groot aanlyn gehoor staan, word ons diep geraak deur mense in ons gemeenskap wat seer het, swaarkry en groot verliese moet hanteer. In ons preke is ons tot eenvoud gedwing en het woorde soos God se genade en liefde vir ons op nuwe maniere betekenis gekry.
Hierdie belewenis resoneer dan ook in die terugvoer van ons onlangse gemeentevraelys, waarin ’n groot aantal lidmate getuig dat hulle in die afgelope twee jaar wel geestelik gegroei het en die omgee van ander mense opnuut ervaar het. Ook is bevind dat met ons aanlyn dienste kon ’n nuwe groep mense, waarvan sommige ver woon, elke Sondag by ons dienste inskakel. Alhoewel ’n groot getal lidmate aangedui het dat hulle wel in die toekoms weer ons dienste in die kerk wil bywoon, was daar ook ’n beduidende aantal wat die behoefte uitgespreek het dat ons steeds met die aanlyn dienste moet voortgaan. Ons bied daarom dan volgende jaar die gewone eredienste, asook aanlyn uitsendings aan.
Vanaf Januarie 2022 keer ons dus terug na die ou eredienstye en begin al ons eredienste op ’n Sondag weer om 09:00, wat die oggenddiens in die kerk, die familiediens in die kleinsaal en die meditatiewe diens in die kapel insluit. Die Relevantdiens bly ook onveranderd om 18:00 Sondagaande. Die kleuter- en peuterkerk in die grootsaal sal ook om 09:00 hervat.
Daar is intussen nuwe fasiliteite in die kleinsaal aangebring, wat ons in staat sal stel om ook voort te gaan met die direkte uitsending van die familiediens. Die oggenddienste is net voor 10:00 klaar en daarna kan kerkgangers in die teetuin en markplein saamkuier, steeds met inagname van die toepaslike Covid-19-veiligheidsmaatreëls wat natuurlik steeds deurentyd by die aanbieding van alle gemeentebyeenkomste geld.
Indien inperkingsmaatreëls weer in die toekoms ingestel word, sal die eredienstye en lokale onveranderd bly. Sou kerkdienste weer moet staak, geniet ons die voordeel dat alle dienste buitendien aanlyn beskikbaar is.
Met die genade van die Here gaan ons die nuwe jaar binne as ’n gemeente wat in vele opsigte wel verander het, maar geestelik gegroei het. Mag ons erediensgeleenthede in 2022 vir elke gemeentelid tot besondere seën wees.