Gedagte vir die dag | Saterdag 27 November 2021

Psalm 97:1.  1Die Here regeer! Laat die aarde juig. Laat die talle eilande bly wees.

Die staatsekretaris Oliver Cromwell was eenkeer op ’n belangrike seereis en kon een nag nie slaap nie. Hy het om een of ander rede ’n voorgevoel gehad dat iets verskriklik op die seereis sou gebeur. Hy het toe een van die ander amptenare wakker gemaak om sy vrees met hom te deel. Die amptenaar het hom gevra of hy hom drie vrae kan vrae,  waarop die sekretaris geantwoord het dat dit goed is. Die amptenaar se drie vrae was:
“Eerstens, het God regeer voor ons gebore is?” Die sekretaris antwoord: “Ja!” Die amptenaar vra: “Tweedens, sal God regeer nadat ons dood is?” Weer antwoord die sekretaris: “Ja!” Die amptenaar vra: “Derdens, moet ons dan nie God vertrou vir nou nie, op hierdie skip, in hierdie nag, en met die res van ons reis nie?” Die bekommerde sekretaris kon die sin van die vrae insien. Hy het rustig geraak en gaan slaap.

Wie regeer oor jou en my verlede, hede en toekoms? Die Bybel het net een antwoord: God! Glo jy dit van harte? Hierdie Psalm juig dit ook uit. God sit op die troon! God regeer! Hy regeer as Koning van die konings en Here van die here! Hy is die middelpunt en skepper van die heelal.  Ons Verlosser, Jesus Christus, is ook op die troon, sê Openbaring 5:7. Wees dus rustig, ons God is in beheer en Hy regeer.

Junita du Plessis sing so mooi:

Wie regeer?
Wie is in beheer?
Wie’s die Begin en die Einde
Die Een wat is, wat was en wat kom?

My hart wil sing
Alle eer wil ek bring
Hy’s die Weg en die Waarheid
Daar’s niemand, niemand soos Hy

Gebed

Ek aanbid U as die Almagtige, Heilige God wat regeer. U regeer hoog bo alle nasies en U regeer oor my lewe ook. Amen