Jakobus 4:11. Moenie lelike goed van mekaar sê nie, broers en susters. As julle lelike dinge van ’n medegelowige sê of ’n medegelowige kritiseer, dan kritiseer julle die wet. En as julle die wet kritiseer, is julle nie daders van die wet nie, maar regters.
Ons het ons sekerlik al almal aan skinder skuldig gemaak, of lelike goed van iemand anders gesê het. Wat beteken dit om kwaad te spreek van medemense? Dit is om voor hulle, of veral agter hulle rug, slegte dinge oor hulle te sê, of te vertel – of dit waar is aldan nie. Dit is om só oor medemense te praat dat jou woorde hulle in die opinie van ander verkleineer. Dit is om een van die kosbaarste besittings wat daardie mens op hierdie aarde kan hê – ’n goeie naam – voor ander af te breek. Johannes Calvyn, die groot hervormer het gesê: Daar is geen groter onreg wat mense aangedoen kan word as om hulle reputasie te skend nie.
Skinder is seker een van die mees vernietigendste tydverdrywe wat bestaan en tog hou mense so baie daarvan. Die gevaar van skinder is dat dit seermaak en afbreek. Die bedoeling met skinder is nooit goed nie
- Skinder is agterbaks. Dink mooi… dit is om iemand agter sy rug seer te maak en af te kraak. Die persoon is nie eers self daar om homself te verdedig nie.
- Skinder is ook gewoonlik ʼn bietjie van ʼn gelieg. Omdat die persoon nie daar is nie, kan jy mos sê wat jy wil sonder om bang te wees dat jou leuens gaan uitkom of dat iemand jou gaan teëgaan. Wie sal nou weet as jy so bietjie aandik?
- Skinder is ook venynig, want gewoonlik skinder ʼn mens nie om te vertel hoe goed iemand is nie! Eerder die teendeel.
Daar word vertel dat Augustinus ’n kennisgewing op sy lessenaar gehad het wat sê: “Enigiemand wat hierdie kantoor binnekom om sy broer te beskuldig, sal hier uit begelei word.“ Die Here is duidelik in Sy opdrag: “Moenie van mekaar kwaad praat nie.” Ons lees ook in Spreuke 10:18. “Wie skinderstories versprei is ‘n dwaas..”
Gebed
Mag elke woord wat uit my mond kom wees soos heuning
En mag gedagtes uit my hart wees soos die môredou
Elke onuitgesproke woord en elke saak wat ek bedink,
Mag dit aangenaam en sinvol wees voor u aangesig o Heer
Want U’s my God, U’s my Redder U’s my vrede.
U’s die rots waarop ek bou en waar ek skuiling vind
U is my kompas, u Woord gee rigting wanneer ek verlore raak.
Daarom is dit my gebed dat wat ek dink of wat ek praat
Welbehaaglik voor U aangesig sal wees. Amen