“Ons het baie jare lank elke Julievakansie met ʼn span jongmense na Prins Albert en spesifiek die gemeenskap in Noordeind, uitgereik,” sê Etienne van Wyk, lid van die Stellenberg Omgeetrust. “Ek het mettertyd ’n onvergenoegde gevoel oor die uitreike begin ontwikkel omdat dit vir my duidelik geword het dat ons jaarliks net ʼn pleister op ’n baie dieperliggende probleem gaan plak. Moet my nie verkeerd verstaan nie – die uitreike het wonderlike werk gedoen, maar ek het begin besef dat om werklik ʼn langdurige impak te maak, moes iets meer substansieels en permanents gedoen word.
“Verskillende opsies is oorweeg en vroeëkinderontwikkeling is as een van die probleemareas en ook as die beginpunt vir ’n langtermynprojek geïdentifiseer. Die Omgeetrust wou nie die wiel herontwerp nie en het daarom Shiloh se model en kurrikulum, wat reeds in onder andere die gemeenskap van Klipheuwel gebruik word, ook op Prins Albert geïmplementeer. Die wiele het begin rol en die Sonneblom-skooltjie vir voorskoolse kinders het die lig gesien.”
Dalene Coetzee, die huidige projekleier, vertel dat ’n tydelike skooltjie aanvanklik in die Baptistekerk op die dorp begin is. Met die intrapslag is 10 personeellede aangestel en 80 kinders, tussen die ouderdomme van 2 en 5 jaar, is tot die skooltjie toegelaat. Personeellede het almal reeds gesertifiseerde opleiding by Klipheuwel Preprimêr ontvang.
“In Januarie 2017 is ons nuwe, pragtige skool met die hulp van Shiloh Synergy, die Stellenberg Omgeetrust en ’n paar donateurs van Prins Albert, geopen,” sê Daleen. “Een van ons komiteelede het die naam Sonneblom vir die kleuterskool voorgestel en dit is eenparig aanvaar. In ons nuwe skool met die vrolike naam, kon ons toe 120 kinders akkommodeer.
“Ons beoog om vanaf 2022 ook ’n graad R-klas aan te bied. Twee studente ondergaan tans opleiding by Shiloh in Klipheuwel en hulle sal verantwoordelik wees vir die hantering van ’n klas met 30 leerders. Vir ons studente – een ’n dogter wat in ’n kinderhuis grootgeword het – is die opleiding uitdagend, omdat alles in Engels is en dit boonop hulle eerste kennismaking met tegnologiese onderrig is. Maar dit is so verblydend om te sien hoe hard hulle werk en hoeveel hulle al in die proses gegroei en geleer het.
“Kleuters ontvang daagliks ook maaltye by die skool en daarvoor is ’n voltydse kok ook tot die personeel, bestaande uit 10 onderwysers en ’n tuinman, gevoeg. Ontbyt, ’n vrug later in die oggend en middagete word daagliks aan die kleuters die voorsien. Drie dae se middagetes word deur die Thursday Group voorsien en geborg en die ander twee dae is ons kok, Charlotte, verantwoordelik vir die etes.
“Volgens my waarneming is tienerswangerskappe, dwelmmisbruik en kinders wat die skool vroeg verlaat, van die grootste maatskaplike probleme wat in Prins Albert voorkom. Die meeste van ons ouers probeer hulle kinders na die beste van hulle vermoë grootmaak, maar die meerderheid ouers is werkloos en afhanklik van maatskaplike toelaes. Ouers wat wel werk, is huiswerkers of doen tuinwerk. Daar is darem twee ouers wat onderskeidelik by Absa en die plaaslike hospitaal werk.
“Die bedryf van die kleuterskool het maar uitdagings. Kwajongens het al oor naweke ons ruite uitgegooi en ’n beskermende net sal help om dit te voorkom. Ek sou ook graag ’n skadunet oor die speelarea wil oprig, maar alles sal mettertyd kom.”
Daleen sê dat die skooltjie se bedryfskoste wat gas, elektrisiteit, kos, ens. insluit, hoog is, maar ten spyte van al die uitgawes, die baie dingetjies wat nog ontbreek en probleme wat opduik, weet en sien sy dat die skool ’n groot verskil in die gemeenskap maak.
Sonneblom-kleuterskool is beslis een van die boublokke vir ’n beter toekoms vir elke kind wat die geleentheid kry om vir vier jaar deel van dié mooi projek te wees. Dit moet en sal ’n verskil in elkeen van hulle lewens en uiteindelik ons land en wêreld maak. – Red.