Brenda Visser, kinderwerker, het op Sondag 7 November gesorg vir ’n bietjie kleur by die Annibrand Junior-groepe met haar helder gekleurde haardos wat enige reënboog maar bleek sou laat vertoon.
Langs haar op die foto staan Jacques Holtzhausen met sy lekker dik bos dreadlocks. Jacques woon in Delft en het by Stellenberg-gemeente betrokke geraak nadat hy en ds. Why Duvenhage mekaar ontmoet het.
”Jacques verkoop swartsakke in woonbuurte,” vertel Why, ”en ons het mekaar sommer so op straat raakgeloop toe hy swartsakke aan my verkoop het. Ek het gesien daar steek iets in hom, met hom begin gesels en toe ’n pad met hom begin stap. Hy het my van sy lewe as ’n dwelmverslaafde vertel en hoe hy nou al tien jaar lank gerehabiliteerd is.
”Ek het hom eers na die mannegebedsgroep uitgenooi, waar hy toe elke Donderdagoggend klokslag om sesuur met sy gehawende motorfiets of karretjie opgedaag het. Toe begin Jacques Stellenberg se eredienste ook bywoon, het hom daarna as ’n eredienswerker aangemeld en is sedertdien Sondag vir Sondag op sy pos by die oggenddiens.
”Sy agtergrond en die omstandighede waarin hy grootgeword het, is so donker en hartseer, dat ek vermoed dit sal vir die meeste van ons lidmate ondenkbaar wees om hulle sulke gebeure as iemand se werklikheid te kan voorstel. Maar ten spyte daarvan is Jacques altyd blymoedig, altyd bereid om te help en nie lui om enige werkie te verrig nie. Sy betrokkenheid by Stellenberg-gemeente is sy grootste trots.”