Karin verruil die kantoorlewe vir die buitelewe

Karin Barter het min bekendstelling nodig nadat sy die afgelope 20 jaar die ontvangstoonbank van die kerkkantoor beman het.  Sy vertel dat sy in Oktober 2000 tydelik by die feesmark uitgehelp het en toe is sy die daaropvolgende jaar voltyds by die kerkkantoor aangestel.

In daardie jare het sy saam met die leraarspan, bestaande uit Bremer Gericke,   Koosie Delport, Braam Hanekom, Willem Malherbe, Jacques van Rensburg, Carel van Wyk en Callie Visagie, ingeval.

Karin beoog om einde Januarie 2022 as ontvangsdame van die kerkkantoor uit te tree en die afgetrede lewe saam met haar man, Johnny, te geniet.  Sy sê dat sy die interaksie met lidmate en kollegas met wie sy ook op persoonlike vlak verhoudings ontwikkel het, baie sal mis.  Die vreemde telefoonoproepe en navrae wat sy dikwels ontvang het, sal haar ook nog lank bybly.  Soos die inbeller wat eendag baie verbaas was dat sy nie die pitbullterriër-teler, wat nogal in die Strand woon, se telefoonnommer byderhand gehad het nie.  Ook die lidmaat wat jare gelede stemme so goed kon naboots dat Karin met ’n slap riem gevang is wanneer sy haar oproepe beantwoord het.  Dan was daar ook gereelde navrae vir loodgieters, boukontrakteurs, ens. met inbellers wat byvoeg dat hulle maar die kerkkantoor met dié navrae kontak, aangesien Karin van alles weet.

Sy sê dat dit vir haar moeilik is om na 20 jaar te groet, maar sy sien ook uit na die nuwe lewensfase.  Noudat verlofdae en skoolkwartale nie meer haar en Johnny se kalender gaan dikteer nie, kan hulle wanneer die weer belowend lyk en die natuur wink, die boswaentjie pak en in die pad val.  Hulle beoog om onder andere ons mooi land met hulle gerieflike boswaentjie te verken.  Hulle geniet kuiers soos in die Kgalagadi Oorgrenspark en is entoesiastiese dierekykers.