Erkenning aan Benescke Janse van Rensburg: “Vers-’n-dag”
In Psalm 139 lees ons: “Hoe wonderlik is u gedagtes vir my, o God, hoe magtig hulle almal! As ek hulle sou wou opnoem – hulle is meer as wat daar sand is, en as ek daarmee klaar is, sou ek nog steeds met U te doen hê.” In Jesaja 49:16 lees ons: “Ek het jou naam in my handpalms gegraveer. . .”
104 jaar – dít is hoe lank adellike juwele wat tydens die rewolusie in 1917 uit Rusland gesmokkel is, in bewaring gehou is. Die diamante word volgende week in Genève opgeveil. Die pienk diamantring van 25.62 karaat is die ster van die versameling en kan moontlik vir tussen R60 en R90 miljoen verkoop word.
Soms voel ons geïsoleerd soos die diamante. Rondom ons skarrel mense, maar dit voel asof niemand van ons bestaan weet nie. Dalk is ons ook in bewaring? Dalk is God besig om ons te bewaar vir die regte oomblik waarvoor Hy ons wil gebruik?
Dawid was eens ’n skaapwagter in die veld. Josef was ’n gevange in die tronk. Ester was ’n weeskind. Al drie hierdie mense het nodig gehad om in die sogenaamde stiltyd uit te vind wie hulle is en die karaktertoetse te slaag sodat hulle die druk kon dra om teen ’n reus te gaan veg, om ’n land vir ’n hongersnood voor te berei, of om haar lewe te waag deur vir haar volk se oorlewing te gaan pleit.
God weet van ons. Hy ken ons toekoms. Hy bepaal ons lewensdae. En net soos die diamante se waarde in isolasie gegroei het, groei ons waarde en karakter ook! Hy bewaar en beskerm ons.
Gebed:
Vader God, baie dankie dat U van my weet – selfs al voel ek alleen en geïsoleerd! Help my om getrou te bly wetende dat U in beheer van my lewe bly! Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.