Ek lees graag vir ons ‘n geloofsbelydenis van Wilhelm Jordaan wat verwerk is deur Elna Mouton van die Sentrum vir Spiritualiteit in Wellington:
Ek glo in ’n Ouer – God wat Liefde en Warmhartigheid is
wat ons gevorm het uit stof en vul ons met Sy Gees
sodat gewone mense soos ons – soos God –kan liefhê sonder vrees.
Ek glo in hierdie God wat geopenbaar is in Jesus Christus
die Mens wat tussen ons kom woon het – Waarheid en Lig!
Ek glo in Jesus Christus – die Mens na God se hart, wat gekies het
om deur die haat en klein begrip van mense ’n doringkroon te dra,
en van God geskei te word in die verlatenheid van Golgota,
wat die doderyk deurgrond het, en daaruit opgewek is
sodat ons onvervreem van God, verby die dood ewig vry kan lewe.
Ek glo in hierdie Jesus wat as Heer opgevaar het na die hemel
wat in liefde en trou my naam en adres ewiglik voor God onthou.
Ek glo in die Heilige Gees – die Wind van God wat oor die leegheid van my lewe waai
en in my ingewande – soos God se moederhart – ’n beroering bring
oor die onsêbare sugte van hulle wat my pad kruis.
Ek glo in die kerk wat uit Christus groei tot nuwe skepping
om alle mense met geregtigheid, liefde en hoop te verbind aan die Ryk van God se Kind;
Ek glo aan die gemeenskap van stukkende sondaars
Wat kniel voor die heiligheid van God;
Ek glo in God se vergiffenis wat die strerkste helende krag in die wêreld is.
Ek glo aan die ewige lewe, wat hier begin en na die dood hierdie belydenis – hierdie blydenuus, sal bly sing.