Gedagte vir die dag | Sondag 7 November 2021

Tieners het my al dikwels gevra waarom ons moet glo en waarom is geloof belangrik.  Ek dink hierdie vraag is juis baie relevant in ons huidige omstandighede.  Indien jy iemand tydens  die pandemie verloor het, of jy het dalk iets anders verloor begin ’n mens dikwels vra waarom ons glo as dit geen voordeel vir ons inhou nie. Om te glo is om vanuit jou eie realiteit en omstandighede uit te styg en te besef dat dit wat nou met jou gebeur is nie al wat daar is nie.

Ek dink dit is wat geloof so waardevol gemaak het tydens die pandemie, om te besef dat hierdie realiteit is nie al wat ons het nie. Die liefdeloosheid wat ek voor my sien is nie die enigste realiteit wat bestaan nie, maar daar is iets dieper en meer.

Jesus het die Koninkryk van God probeer in ’n storie probeer vertel wat so kosbaar is dat jy jou verstaan van wat jy wil hê sal opgee om dit te kry.

Matteus 13: 44-46

44“Met die koninkryk van die hemel gaan dit soos met ‘n skat wat in ‘n saailand onder die grond lê. Wanneer iemand dit kry, maak hy dit weer toe; en omdat hy baie in sy skik is, gaan verkoop hy alles wat hy het, en hy koop daardie land.

45“Met die koninkryk van die hemel gaan dit soos met ‘n handelaar wat op soek is na goeie pêrels. 46As hy ‘n baie waardevolle pêrel raakloop, gaan verkoop hy alles wat hy het, en koop die pêrel.

Waarom sal jy geloof hê? Jesus se antwoord is: Want dit is meer kosbaar as die realiteit wat voor jou lê. Die vermoë om uit jou huidige omstandighede te kan dink is wat ons geloof vir ons kosbaar maak. Dit is die besef dat ons skatte wat ons hier voor ons het nie ons enigste skatte is nie, dit is die besef dat ons verhoudings wat voor ons is in staat is tot meer.

Mag jy terugstaan en die Koninkryk se waarde sien in jou lewe en in hierdie tyd.

Gebed

Here, dankie dat u Koninkryk ons kan laat droom, dat dit ons iets meer in die lewe laat raaksien. Mag ons die vermoë ontwikkel om terug te staan en die waarde van u Koninkryk raak sien. Amen