Gedagte vir die dag | Saterdag 6 November 2021

Verlede Maandag op stemdag het ek saam met my vrou by Gene Louw Laerskool gaan stem. Ons het vir twee ure in die ry gestaan om ’n geleentheid te kry om te stem. Deur die loop van ons toustanery het ’n ouer oom ingestap en die trappie na die saal  mis getrap en baie hard geval.  Hy het homself ernstig beseer en bloed het uit ’n sny op sy voorkop gestroom. Wat volgende gebeur het, het my weer hoop gegee vir die mensdom: ewe skielik het almal in die stemlokaal gehardloop om die oom te help, mense het badkamer toe gehardloop om papiersakdoeke te kry en ander het hom opgehelp en die bloed begin skoon vee.

Ek het weer iets van die Koninkryk van God beleef in ’n skoolsaal wat as ‘n stemlokaal ingerig is. Dit het my weer bewus gemaak dat die liefde van God breek deur as ons mekaar dra. Hierdie gebeurtenis het my weer laat vra: Sien ek die geleenthede raak om hierdie Koninkryk te laat deur breek of mis ek dit soos baie van ons maar doen.

Jesus vertel ‘n gelykenis van die Koninkryk van God, Matteus 13:31-33:

31Hy het nog ‘n gelykenis aan hulle voorgehou en gesê: “Die koninkryk van die hemel is soos ‘n mosterdsaadjie wat iemand gevat en in sy land geplant het. 32Dit is die kleinste van al die soorte saad, maar as dit uitgegroei het, is dit groter as die tuinplante en word dit ‘n boom, sodat die voëls in sy takke kom nes maak.”

33Hy het hulle nog ‘n gelykenis vertel: “Die koninkryk van die hemel is soos suurdeeg wat ‘n vrou gevat en in ‘n groot skottel meel ingewerk het totdat dit heeltemal deursuur was.”

Jesus sê vir ons die Koninkryk is so klein soos ’n mosterdsaadjie, so klein en onverwags dat jy dit baie maklik kan  mis kyk, maar wanneer jy dit laat groei raak dit so groot dat die voëls daarin kan nes maak, en almal dit kan sien en beleef. Die Koninkryk is soos deeg of klei waaroor ons beheer het en wat ons kan kniel en vorm.

Hierdie gelykenis laat my die vraag vra of ek ooit terug staan en die Koninkryk in my eie lewe raak sien. Gryp ek die geleenthede aan in my eie verhaal/storie om die Koninkryk te laat deur breek. Die geleenthede is in jou storie, jy moet dit net raak sien om dit te laat deurbreek.

Gebed:

Here, dankie dat u Koninkryk so groot is dat dit ons verander en dat dit ook mense verander. Ons bid Here dat u ons sal help om die mosterdsaadjies raak te sien sodat ons u Koninkryk kan laat deurbreek in ons verhale.

Amen