Gedagte vir die dag | Vrydag 5 November 2021

Simon Sinek die skrywer en spreker het op ’n tyd gesê dat jongmense in die post-moderne wêreld besig is om hulle vermoë om sosiaal wyse keuses te maak, te verloor.  Volgens hom het sosiale media ’n groot invloed daarop.  Ons kan deesdae net vir iemand ’n boodskap stuur, en ’n moeilike gesprek in persoon vermy. Ons keuse van vriende word ook beïnvloed deur wat hulle vir ons kan bied en hoe hulle lyk, eerder as die intieme band wat tussen ons bestaan.

Ek het al baie deur my Facebook-vriende geblaai en gewonder of al die mense enigsens ’n impak op my lewe het, of hulle werklik enige betekenis op my lewenspad het. Ek dink Jesus wou juis vir mense wysheid gee rakende die impake wat mense in ’n mens se lewe kan hê en die invloed wat hulle op jou persoonlike groei (of gebrek daaraan) kan hê.

Jesus vertel ’n gelykenis van onkruid

Matteus 13:24-30

24Hy het nog ‘n gelykenis aan hulle voorgehou en gesê: “Die koninkryk van die hemel kan vergelyk word met ‘n man wat goeie saad op sy land gesaai het. 25Een nag, toe die mense slaap, het sy vyand gekom en onkruid tussen die koring gesaai en verdwyn. 26Toe die groen koring opskiet en in die aar begin kom, het die onkruid ook sigbaar geword. 27Die slawe van die boer kom sê toe vir hom: ‘Meneer, het u nie goeie saad op u land gesaai nie? Waar kom die onkruid dan vandaan?’ 28Hy antwoord hulle: ‘Dit is ‘n vyand se werk.’ Die slawe sê toe vir hom: ‘Wil u hê ons moet dit gaan uittrek?’ 29‘Nee,’ sê hy, ‘as julle die onkruid nou bymekaarmaak, sal julle die koring saam uittrek. 30Laat altwee saam groei tot met die oes. In die oestyd sal ek vir dié wat oes, sê: Maak eers die onkruid bymekaar en bind dit in bondels om dit te verbrand, maar bring die koring na my skuur toe.’ ”

Jesus wys hier vir mense dat onkruid tussen jou kan groei.   Mense wat inhaak in jou lewe het tog ‘n impak op wie jy is en waarheen jou lewe gerig word. Ek dink Covid-19 het ons weer opnuut bewus gemaak daarvan dat ons werklik mense om ons nodig het – mense wat ons laat groei en ons ondersteun. Dit is half asof Jesus vir ’n mens probeer sê: Mag jou medereisigers jou dwing tot groei en jou nie versmoor nie.

Wie is die medereisigers in jou storie?

Gebed

Here, dankie vir ’n nuwe dag en ’n nuwe geleentheid om saam met mense te reis. Ons bid Here dat ons mekaar sal aanspoor tot groei, dat ons nie onkruid sal wees in ander se lewens nie, maar dat ons ook nie versmoor sal word deur onkruid in ons eie lewens nie.

Amen