Ons is vir hierdie reeks dagstukkies besig om te kyk na gelykenisse en ook ons eie stories. Die titel van hierdie reeks is my gelykenis, my storie. Gelykenisse help ons om terug te staan en eerlik te kyk na ons eie verhale saam met God.
Toe ek jonk en stout was het ek een middag my sussie se Hundai Accent geleen (as 15-jarige seun mag ek natuurlik nie bestuur het nie). Ek het gedink dit is cool om jou vriende op te laai en om voor te gee jy is meer volwasse as jou ouderdom. Ek en my vriende was op pad terug van die kuier geleentheid toe die kar snaakse geluide gemaak het en nie meer wou beweeg nie. Ons het toe nie meer petrol oor gehad nie en dit net omdat ons nie regtig geweet het waarmee ons besig was nie. Ons het petrolstasie toe gedraf en ’n 2 liter Coke Bottel vol petrol gemaak en dit in die kar gegooi net om weer terug by die huis te kom.
Tydens ons draffie na die petrolstasie het ek so skuldig gevoel oor wat gebeur het, omdat ek geweet het wat my ma en pa vir my geleer het oor vertroue en ek het dit toe verbreek. Toe ek by die huis instap was my ma net bly dat ek lewe, maar nogtans kwaad dat ek haar vertroue in my verbreek het. So ’n jaar later het ek weer sonder toestemming die Accent gevat en daarmee gery, hierdie keer om waarlik skade aan die kar aan te rig.
Hierdie is my gelykenis van ’n geleentheid waar ek gehoor het, maar nie geluister het nie. Ons kan dikwels dit hoor wat ons laat groei, dit wat goed is vir ons, maar nie werklik iets daarmee doen nie. Om te luister is om dit deel te maak van jou wese. Ek dink Jesus het iets hiervan probeer verduidelik deur die gelykenis van die saaier.
Matteus 13:1-9
1Dieselfde dag het Jesus van die huis af gegaan en by die see gaan sit. 2’n Groot menigte het so om Hom saamgedrom dat Hy in ‘n skuit geklim en daarin gaan sit het, maar die mense het almal op die strand bly staan. 3Hy het hulle baie dinge in gelykenisse vertel en onder andere gesê:
“’n Saaier het eendag gaan saai. Met die saai het ‘n deel van die saad op die pad geval, en 4die voëls het gekom en dit opgepik. 5’n Ander deel daarvan het op klipbanke geval, waar daar nie baie grond was nie, en dit het gou opgekom omdat die grond nie diep was nie. 6Maar toe die son warm word, is dit verskroei, en omdat dit nie wortel geskiet het nie, het dit verdroog. 7’n Ander deel het tussen die onkruid geval, en die onkruid het opgekom en dit laat verstik. 8Die ander saad het in goeie grond geval en ‘n oes gelewer, party honderdvoudig, ander sestigvoudig en ander dertigvoudig.
9“Wie ore het, moet luister!”
As jy moes terug staan en na jou storie kyk sou jy kon sê dat jy luister, maar werklik luister. Met ander woorde, is jy besig om die wysheid van jou geloof deur jou wese deel te maak van wie jy is, of is jy soos Hanno toe hy ’n tiener was, die een wat ore het maar nie luister nie.
Elke geleentheid in ons lewens is geleenthede waar ons op die pad staan, op die klipbank, tussen die onkruid en op goeie grond. Hoe lyk jou storie?
Gebed
Here, ons bid dat die u wysheid sal deel word van wie ons is, dat dit op goeie grond sal val by ons. Ons bid dat ons sal kan terug staan en eerlik wees oor ons eie stories en waar ons is. Mag u wysheid groei in ons lewens.
Amen