Gedagte vir die dag | Woensdag 3 November 2021

My storie

Ek onthou hoe ek as kind verhale voor my sien afspeel het oor die gelykenisse wat Jesus gebruik het. Hoe Jesus omdraai op pad êrens heen, of met ’n groep mense gesels en dan ’n stuk wysheid deel.  Ek het baie keer gewonder wat die doel is van gelykenisse, is gelykenisse maar net stories of is dit juis om ons te help om iets te leer.

Peter Rollins die Ierse teoloog het destyds ’n preekreeks saamgestel waarin hy sy eie gelykenisse vertel het. Verhale en stories van sy eie lewe wat hom iets geleer het oor wat dit behels  om ‘n ander perspektief oor hierdie lewe voor hom te vind. Ek glo dit is die doel van gelykenisse om vir ons te wys dat ons uit ons eie storie kan klim en krities kan kyk na waar ons onsself bevind.

Jesus het die doel van gelykenisse uitgelê in Matteus 13:10-17

10Die dissipels het vir Jesus kom vra: “Hoekom gebruik U gelykenisse as U met die mense praat?”

11Hy het hulle geantwoord: “Aan julle is dit gegee om die geheime van die koninkryk van die hemel te ken, maar aan hulle is dit nie gegee nie. 12Wie het, vir hom sal nog meer gegee word, en hy sal oorvloed hê; maar wie nie het nie, van hom sal ook die bietjie wat hy het, weggevat word. 13Om hierdie rede praat Ek met hulle in gelykenisse: omdat hulle kyk maar nie sien nie, en hoor maar nie luister en verstaan nie. 14In hulle geval word die profesie van Jesaja vervul wat sê:

“ ‘Julle sal hoor en hoor en tog niks verstaan nie, en kyk en kyk en tog niks sien nie.

15Hierdie volk se verstand is afgestomp: hulle het hulle ore toegedruk en hulle oë toegemaak

sodat hulle nie met hulle oë kan sien en met hulle ore kan hoor

en met hulle verstand kan verstaan en hulle bekeer, en Ek hulle gesond maak nie.’

16“Maar julle oë is bevoorreg dat hulle sien, en julle ore dat hulle hoor. 17Dit verseker Ek julle: Baie profete en gelowiges wou graag sien wat julle sien, maar het dit nie gesien nie, en wou graag hoor wat julle hoor, maar het dit nie gehoor nie.”

Jesus lig drie goed in die gedeelte uit:

Daar is van ons wat kyk maar nie sien nie.

Daar is van ons wat baie het en ander wat weer baie min het.

Daar is van ons wie hoor, maar nie luister nie.

Om werklik krities te wees oor jou eie omstandighede en waar jy jouself bevind,  moet jy uit jou omstandighede kan klim sodat jy krities daarna kan kyk. Om dit wat om jou gebeur werklik dit te sien en te luister moet jy die vermoë ontwikkel om terug te staan. Wanneer laas het jy jou lewe op ’n stoel voor jou gesit, wanneer laas het jy eerlik gekyk na wie jy is, wat jy doen en waarheen jy op pad is. Dit is waarom Jesus ons deur gelykenisse wil konfronteer.  In hierdie sewe dagstukkies wil ek saam met jou kyk na verskeie gelykenisse en wat dit vir ons sê oor waar ons tans is.

Gebed:

Here, dankie dat U ons uitdaag om in hierdie tyd terug te staan en te luister.  Ons bid Here en sê dankie vir u beskerming, genade en liefde in hierdie tyd van onsekerheid. Ons bid vir nuwe insig deur die stories en gelykenisse wat U met ons deel. Amen