2 Korintiërs 5:5-7. Hy wat vir ons hierdie oorgang voorberei het, is God. As waarborg hiervan het Hy ons sy Gees gegee. Daarom is ons altyd vol moed. Ons weet dat, solank ons nog in die liggaam bly, ons nog nie by die Here woon nie, want ons lewe deur geloof, nie deur sien nie.
Ek bevind myself nou toenemend in die lewensfase waar ’n mens begin besef dat jou lyf nie gemaak is om vir altyd te hou nie. Die dag wanneer ’n mens se oë, geheue en liggaamskrag minder word, lê onvermydelik vir almal van ons voor. Jy moet afskeid neem van dinge wat nog altyd vanselfsprekend was en nou nuwe maniere vind om dinge gedoen te kry. Die dag wanneer die grysheid deurslaan bekruip jou soos ’n dief in die nag. Tog is daar soveel seën in oud word. Paulus beskryf dit mooi as hy in dieselfde gedeelte van ons teks die volgende sê: “terwyl ons by die dag uiterlik vergaan word ons innerlik vernuwe”. Moenie toelaat dat die moedeloosheid van ouderdom en die realiteit van gepaardgaande agteruitgang in jou pad staan om vandag met betekenis te leef nie. In elke fase wat vir ons voorlê, lê ook die seën van nuwe geleenthede opgesluit en die voorreg van dankbaarheid oor die verlede.
Gebed
Here, as die herfs van my lewe, net so diep en ryk sal raak soos die goud en rooi van die herfsblare; dan is die verlies van lente- en somerjare niks in vergelyking met die wins van hersfjare nie. Maak dit in my ’n tyd van geestelike verdieping van rus, groei en voortgesette diens.
AMEN.