Johannes 8:31-32. Toe sê Jesus vir die Jode wat in Hom glo: “As julle aan my woorde getrou bly, is julle waarlik my dissipels; en julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vry maak”.
Die woorde is in ’n radikale konteks deur Jesus gespreek. ’n Vrou wat van owerspel beskuldig was, word voor Jesus gebring en Hy word dan gevra om haar te oordeel. Die wet van Moses was baie duidelik oor die waarheid wat in hierdie geval moes geld. Sy moes gestenig word, maar Jesus tree anders op! In plaas daarvan om haar te veroordeel, lei hy haar tot vergifnis en ’n nuwe lewe. Die ironie is dan dat diegene wat haar op grond van ’n Bybelse waarheid wou veroordeel, self nie verander het nie.
Wat is die waarheid wat in hierdie verhaal na ons toe deurdring en ons kom vry maak? Wat beteken dit vir ons om vandag aan die Here se woorde getrou te bly? Mag vandag se gedeelte jou help om moeilike en komplekse sake met ’n ander ingesteldheid te beoordeel. Mag die insig van U unieke ingesteldheid tot die lewe ons help om te kan onderskei wat die regte en waar ding is om vandag te doen.
Gebed
Here, die lewe is so kompleks en ons beoordeling daarvan dikwels so impulsief en oppervlakkig. Ons leer dat U vandag meer van ons vra as ’n wetgehoorsame beoordeling. Help ons om met liefde en ’n fyn ingesteldheid na mense en omstandighede om ons te kyk sodat ons die waarheid in elke gegewe situasie kan onderskei en dit sal laat seevier. ’n Waarheid wat nie net tot ander deurdring en wat ek wil terregwys nie, maar my ook in die proses kom verander.
Amen.