Gedagte vir die dag | Woensdag 27 Oktober 2021

Johannes 11:25-26.  Toe sê Jesus vir haar: “Ek is die opstanding en die lewe. Wie in My glo, sal lewe, al sterwe hy ook; en elkeen wat lewe en in My glo, sal in alle ewigheid nooit sterwe nie. Glo jy dit?”

Die teks was aan Marta en Maria gerig toe hulle lewens in duie gestort het met die afsterwe van hulle broer Lasarus. Wat is jou enigste troos in die lig van die grootste uitdagings wat oor jou pad in die lewe kan kom? Ons is Sondagskool geleer om te antwoord: “Dat ek met my hele wese nie aan myself nie, maar aan Christus my Verlosser behoort”.

Dit is vir ons moeilik om daagliks in onsekerheid te leef, onwetend van dit wat dalk vandag ons lewenspad mag kruis en alles in duie laat stort. Dit verhinder ons dalk om ’n lewe van oorvloed te lei. Dat ons in lewe en sterwe aan die Here behoort is verseker ’n groot troos te midde van die tragedie van dood en die onsekerheid wat dit in ons lewens meebring. Mag jy ervaar hoe dit jou ook vandag inspireer om die geskenk van lewe, wat die Here jou gegee het,  ten volle te leef.

Gebed

Here, sedert u hemelvaart is ons u liggaam op aarde. Ons hande is nou die hande waarmee U werk wil doen. Ons voete is die voete waarmee U in hierdie wêreld wil rondgaan. Ons oë is die oë waarin mense deernis en ontferming kan sien uitstraal na ’n hartseer wêreld. Here, ons is nou U liggaam om aarde. Dankie vir die troos dat ons aan U behoort. Laat hierdie gedagte vandag my hele wese vul en inspireer om met ‘n selfvertroue hierdie dag in te gaan. AMEN