Gedagte vir die dag | Dinsdag 26 Oktober 2021

Agtergrond: Koning Agab het gehuiwer om die Arameërs aan te val en die Here het deur die profeet aan hom die oorwinning beloof.

1 Kon. 20:14 “Agab vra toe: wie moet die geveg aanknoop?  En die profeet antwoord: U.”

Ek het onlangs die reeks “Das Boot” gekyk wat handel oor die Duitse inval in Frankryk.  Tydens die Eerste Wêreldoorlog was daar ’n aantal Franse wat nie meer kon glo dat die Duitsers oorwin kon word nie.  En daarom wou hulle tot elke prys vrede sluit. Die Franse staatsleier, Clemenceau, ook bekend as die Tier, kon hierdie klomp wat nie die moed gehad het om op te staan teen die Duitsers nie, nie verdra nie en hy het hulle uitgeskel as die défaitiste. Die Franse woord défate beteken nederlaag en défaitste was daarom mense wat voor die stryd verby was alreeds getwyfel het aan oorwinning en die handdoek ingegooi het.

Wanneer ’n mens in ons tyd luister oor hoe moedeloos mense is en hoe negatief mense praat, beleef ons ook hoe mense in ons omgewing en land moed opgee. Prediker 2:17 sê ook dan soek mense ook gewoonlik ’n sondebok. Dis hierdie een of daai een se skuld en dis hoekom dit so sleg met ons gaan.  Die skryfster Dorothy L Sayers het aan die begin van die laaste Wêreldoorlog sewe briewe in ’n bekende Britse blad geskryf waarin sy en ’n Engelse familie gesels het oor die haglike toestande in Brittanje. Die korrupsie, die voedselrantsoenering, behuisingsnood en dies meer. Sy wou met haar briewe die lesers bemoedig en rigting gee en sy skryf onder meer: “Sê aan die mense dat hierdie ’n nuwe soort stryd is en dat dit wat hulle moet stry, hulle self en alleen moet stry.  Hulle moenie gedurig vra vir leierskap nie maar self leiding neem.  Ek het die oë van mans gesien wat vra om leierskap en hulle oë is die oë van slawe. Dis nie genoeg om die owerheid wakker te maak om dit of dat te doen nie.  Jy moet die mense laat verstaan dat hulle redding in hulself lê – in elke afsonderlike man en vrou.”

Ons gaan binnekort vir die plaaslike owerheid stem, maar uiteindelik lê die oplossing in die rol wat elkeen van ons speel.  En dit is wat vir die profeet Agab gesê is – jy is die man. Jy is die een wat moet opstaan. Wat ’n rol moet speel in jou huis, jou geloofsfamilie of in jou werk. Jy is die een wat moet vasstaan en die koers moet aangee met ’n positiewe en ’n sterk bydrae.  So mag ons as gelowiges nooit ons verantwoordelikheid afskuif en projekteer op ander wat dinge moet doen nie, maar liewer kyk waar ek en jy as kerk, as gelowiges ’n verskil kan maak.  Waar kan ons diens onmisbaar maak deur ons waagmoed maar ook gehalte van diens in die werkplek,  of waar dit ook al mag wees.

Gebed

Here, dankie dat ons die geveg spreekwoordelik kan begin waar U ons ook al plaas.

Amen