Ps. 118:24 “Dit is op hierdie dag wat die Here gewerk het. Laat ons dan die dag met vreugde vier.”
Op ’n dag het Robert Schuler, bekende Amerikaanse predikant van Kalifornië, ’n oproep van sy sekretaresse Louise ontvang. “Robert,” het sy met ’n bewende stem gesê, “ek het slegte nuus, ek het pas gehoor dat ek agressiewe kwaadaardige kanker het.” Schuler het dadelik na haar huis toe gery en toe hy voor haar huis parkeer het hy by homself gewonder wat hy vir haar moet sê. Hy kon maar net vir haar bid en haar aan die Here opdra. Jare later het sy hom herinner aan sy gebed wat sy nooit sou vergeet nie. “O Here, ons is so dankbaar dat die kanker op so ’n vroeë stadium ontdek is”, het hy gebid. “Ons dank U dat ons in ’n tyd leef waarin daar reeds soveel vordering in die behandeling van die siekte gemaak is. Ons is dankbaar dat Louise omring is deur ’n groot aantal mense wat haar kan bemoedig: ’n eggenoot, familie, vriende, bure. Dankie Here, vir hulle almal. Veral is ons dankbaar dat Louise die gawe het van ’n vaste geloof al weet sy nie wat die toekoms gaan bring nie. Sy weet in wie se hande haar toekoms is.”
Ek onthou hoe ek eenkeer by iemand se siekbed was. Die persoon was al volgens die familie sterwend en hulle het my versoek om ’n gebed te kom doen. Die gesinslede het aanvaar dat hy binnekort sou sterwe. In my gebed het ek hom aan die Here opgedra en gevra dat die Here die pad saam met hom tot by die dood sal loop. Tot my verbasing het ek die volgende dag by hom gekom en daar sit hy opgewek en regop in sy bed. Toe kon ek ’n gebed doen en my kleingeloof bely. Soms is ’n mens in die teenwoordigheid van die weeklaers en jy besef nie dat ons in ’n Here glo wat kan verander en nuut maak nie. Soms staan ’n mens voor die werklikheid en alhoewel ons nie in ontkenning moet leef nie, moet ’n mens elke saak vir die Here oorgee. Want hy maak nuut, Hy maak anders en Hy kan ook vandag wonders doen. In Lukas 8 lees ons van die mense langs die bed van Jaïrus se dogtertjie. Die mense het gehuil en oor haar gerou en vergeet dat Jesus in ’n krisisoomblik kan ingryp.
Markus 10:27 “Vir God is alles moontlik” Hou ons nog daaraan vas? Indien wel, kan jy elke nuwe dag ingaan en saam met die Psalmdigter uitroep: “Dit is die dag wat die Here gemaak het, laat ons juig en bly wees daaroor.” (Ps.118:24) Kom ons maak dit vandag ons leuse. As ’n dankbare en positiewe Christen gelowige.
Gebed
Here, gee dat ons nie so gou moed sal verloor nie. Dat ons perspektief sal hou oor die werklikheid maar ook perspektief op dit wat U nuut maak en verander bo wat ons kan bid of dink. Amen