Gedagte vir die dag | Saterdag 23 Oktober 2021

Lukas 23:46. “Toe het Jesus hardop uitgeroep: “Vader, ek vertrou my Gees aan U toe. En toe hy dit gesê het sterf hy.”  Luk. 24:1 – “Die Sondagmôre baie vroeg het die vroue na die graf gegaan met die reukolie wat hulle reggemaak het”

Die vroue het net ’n leë graf gevind. Die gewilde Skotse sanger, sir Harry Lauder het aan die begin van ’n sanguitvoering in ’n kerk gesê dat hy iets op die hart het. Hy het aan die gehoor vertel van sy seun, sy enigste kind, wat twee jaar gelede as jong soldaat gesneuwel het. My hart was stukkend en ek het besluit om nooit weer te sing nie. Ek het my spoedig op ’n baie afdraande pad bevind.  In ’n poging om van my verdriet weg te kom het ek dit probeer wegdrink.  Ek het later besluit om liewer die ander, moeiliker pad te kies wat my op die berg sou uitbring.

Dit was ’n ruwe en hobbelrige pad, maar ek het enduit volgehou.  Eindelik het ek by my seun se graf gekom en daar ’n kruis gevind en skielik het ’n swaar las van my afgerol.  En op ’n bonatuurlike manier het die begeerte om weer te sing by my opgekom. Want met ’n groter sekerheid as ooit het ek besef dat my seun lewe deur die een wat aan die kruis gesterf het.  En ek het net geweet dat ek hom weer sal sien.

Dit is nie so eenvoudig om net by ’n kruis te arriveer en skielik val alles in plek nie.  Môre is Sondag, maar afgesien dat ek jou wil uitnooi na die erediens is dit belangrik om te weet hoekom ons Sondae bymekaar wil kom. Daar is ’n kruis in die kerk. Die kruis sluit aan by die teksgedeelte wat ons in hoofstuk 24 gelees het. Die klip wat weggerol is. Ons kniel by die kruis maar ons kyk op na Jesus wat opgestaan het.  Daar is die nuwe lewe en die Here kan soms op ’n bonatuurlike manier heel maak en gesond maak. Vir seker hou ons vas aan vele hulpmiddels wat ons kan gebruik om heel te kom, soos die mediese wetenskap bied. Dokters, sielkundiges en psigiaters wat ons tydens krisisse kan help.

Die digter, William Blake, het voor sy dood in 1827 verklaar dat die betekenis van dood vir hom is om net van een kamer na ’n ander te beweeg. Op sy sterfbed het Blake selfs lofliedere gesing wat sy buurman later laat verklaar het:  “Ek was by die sterfbed – nie van ’n mens nie, maar van ’n engel.”  Miskien verstaan ons nou die onbegryplike vers van Blake nog beter:  “To see a world in a grain of sand and a heaven in a wild flower, hold infinity in the palm of your hand and eternity in an hour.”

Kom ons herinner mekaar elke Sondag dat dit die dag is wat Jesus opgestaan het, wat hy die dood oorwin het en dat ons nou met moed en hoop kan lewe omdat ons kniel by die kruis wat uitgeloop het op die klip wat weggerol is.

Gebed

Here, dankie vir u opstandingskrag as ’n werklikheid in ons lewens. Dankie, dat U ons elke Sondag daaraan herinner dat U uit die dood opgestaan het.

Amen