Gedagte vir die dag | Donderdag 21 Oktober 2021

Psalm 39:2 “Ek het my voorgeneem om versigtig te lewe en niks verkeerd te sê nie.”

Benjamin Franklin: “As jy lof wil oes moet jy die saad daarvoor saai – sagte woorde en goeie dade.”

Dis ’n ou verhaal uit die Egiptiese geskiedenis wat vertel van die broers Horus en Sobek.  Hulle was twee jong heersers wat sowat 34 eeue gelede langs die Nylvlak, by die plek waar die Aswandam later gebou is, hul koninkryk gehad het.  Hulle het saam ’n tempel vir hul onderskeie gode daar gebou. Die ruïnes van hul aanbiddingsplek is blykbaar vandag nog daar te sien.

Maar toe raak Sobek jaloers op sy broer wat met sy krygsvernuf en gedissiplineerde  optrede die bewondering van almal afgedwing het.  Met behulp van sy trawante het Sobek uiteindelik daarin geslaag om vir Hores uit hul koninkryk te verban en so het Sobek toe alleenheerser geword. Nadat Sobek van Horus ontslae geraak het, het hy ontdek dat al sy getroue werkers op die landerye sy broer lojaal gevolg het. In sy nood het hy die hulp van bose geeste ingeroep om die saad op sy (Sobek) se landerye te saai. Later het hy tot sy ontsteltenis ontdek dat hulle nie saad nie, maar sand op sy landerye gesaai het. Daar was uiteindelik geen oes nie en so het sy heerskappy tot ’n val gekom.  Hierdie mag ’n ou verhaaltjie wees, maar dit bewys weer dat ons altyd maai wat ons gesaai het.

Ons weet daar is ’n baie nou verband tussen harde werk en die vrug en seën wat daarop volg. En daarom het Jesus in sy gelykenis gewaarsku teen die vyand wat in die nag kom en die onkruid tussen die koring gesaai het.  Matt. 13:25.  As gelowiges mag ons nooit aan die slaap gevang word nie.  Of nog erger, soos die jaloerse Sobek wat saam met gevaarlike bondgenote gewerk het. Wie dit doen bou sandkastele wat spoedig inmekaar tuimel. ’n Inwoner van Springfield in Amerika het baie jare gelede op ’n dag kinders in die straat voor sy huis onbedaardelik hoor huil. Toe hy by die voordeur uitkyk, was dit Abraham Lincoln se twee seuns wat so huil. En toe vra hy vir Lincoln maar wat is fout met die twee kinders? Lincoln, die latere president, het geantwoord: “Net wat fout is met die hele wêreld”.  Ek het drie okkerneute en elkeen wil twee daarvan hê. In hul begeerte om altyd die meeste wil hê, sal mense soms alle ander beginsels prysgee.  En tog sal hulle eendag alles moet agterlaat wanneer hulle na hul graf gaan, soos Sobek moes doen.

 

Gebed

Here, gee dat ons vandag toegewyd, volhardend, eerlik en verantwoordelik sal werk. Dankie vir die gawe om te kan werk  en vir die sin en betekenis wat dit kan gee. Dankie vir die vrug wat daar is op dit wat vandag gedoen word.  Ons vra dat U ons handewerk seën.

Amen