Gedagte vir die dag | Dinsdag 19 Oktober 2021

Psalm 31:2. “By U, Here, skuil ek. Laat my tog nooit teleurgestel staan nie! Bevry my, want U is getrou.”

Baie van ons voel onseker of dalk benoud in hierdie tyd. Met goeie reg. Ons weet nie wat voorlê nie. Wat gaan van die ekonomie word? Hoe lank gaan ons finansies dit nog hou? Gaan daar anargie in die land uitbreek? Gaan hierdie virus dalk vir my en my huisgesin ook tref? Wat gaan van ons word?

Dis net by die Here waar ons kan skuil in sulke tye. Dis net Hy wat werklik tyd maak en genoeg omgee om af te buk, ons hand te neem en ons weer regop te trek. Sy liefde en deernis help ons deur die moeilikste tye. Gee ons die krag en wil om die stof, van gister se val, af te skud en weer voort te gaan.

Wat beteken dit om by die Here te skuil. Dit beteken om Hom te vertrou. Vertrou op die Here; Hy is getrou om Sy beloftes na te kom. Hy sal jou nie in die steek laat nie. Hy hoor as jy roep en is gereed om te help.

God, wat al die mag het, sal jou nooit in die steek laat nie. Hy sorg vir mense wat swaar sleep. Is jou probleem dalk te groot om uit te sorteer? God sal jou dan daarmee help. Voel dit of jou siekte jou oorrompel? God is daar!  Lê jy platgeslaan op die vloer? God het jou só lief. Hy sal jou daar kom optel. Elke keer. Gee vir God hierdie swaar gewig wat jy so saam met jou dra. Skuil by Hom.

 GEBED

Skuil by die Vader. Hy is genadig.  Daar is niemand soos Hy. Hy is altyd getrou. Hy is vol deernis. Hy ken jou onrus. Sy iefde beskerm jou. Hy is altyd getrou.

Amen