Psalm 100:5. “Dien die Here met blydskap. 1’n Dankpsalm. Juig tot eer van die Here, almal op aarde! 2Dien die Here met blydskap! Kom voor Hom met gejubel! 3Erken dat die Here God is: Hy het ons gemaak en ons is Syne, ons is sy volk, sy eie kudde. 4Gaan sy poorte binne met dankliedere, sy tempel met lofsange, dank Hom, prys sy Naam, 5want die Here is goed, aan sy liefde is daar geen einde nie, sy trou duur van geslag tot geslag.”
Die Westminster-kategismus begin met die woorde: “What is the chief end of man?” Die antwoord is: “Man’s chief end is to glorify God, and to enjoy him forever.”
Dit klink soos Psalm 100.
Ons bestaan en die rede hoekom ons hier op aarde is, is om God te verheerlik en Hom vir altyd te eer. Dit ons hoogste en belangrikste doel.
Prof Dirkie Smit skryf: “Lofprysing vorm die hart van die Christelike lewe. Die hele Christelike lewe gaan oor lof aan God, die eer van die Here se Naam, die verheerliking van sy Naam, die erkenning van sy heiligheid. Die Christelike lewe is lofprysing. Lofprysing staan absoluut sentraal in die Christelike lewe. Daar is niks belangriker nie.”
Die Griekse woord wat veral vir ‘lof’ gebruik word, kan so omskryf word: “om goeie woorde te praat”. Maar lof is nog veel meer. Dit is om goeie woorde te wil praat, te moet praat. Om die Here dus te loof en te prys beteken om in ’n rykdom van goeie woorde met en van Hom te praat. Dit is egter nie woorde wat op die punt van die tong ontstaan nie. Dit is woorde wat uit die diepte van die hart vloei.
Die Here moet geprys word omdat Hy die almagtige Skepper is. Hy het met sy Woord die heelal geskape en alles in plek gesit. Elke sterretjie, die aarde en die son – alles is perfek. Hy moet geprys word omdat Hy God is, omdat sy Naam verhewe is bo alles en almal. Hy regeer oor alles en hou alles in stand, sy majesteit strek oor die hele aarde, Hy is Koning. Hy gee krag aan die wat Hom dien, Hy sorg vir ons. Hy is naby aan ons. Hy het ons gemaak en ook nuut gemaak deur ons te verlos van die dood en die sonde. Niemand en niks is magtiger as Hy nie. Hy is naby aan ons en is lief vir ons en sorg dag na dag vir ons, omdat Hy God is en omdat Hy goed is.
GEBED
Ek wil U lof verkondig, my God en Koning, ek wil U naam altyd loof. Die Here help almal op wat geval het, Hy ondersteun die wat bedruk is. Die Here is regverdig in al sy handelinge, getrou in alles wat Hy doen. Die Here is naby almal wat Hom aanroep. Laat al wat leef sy heilige naam vir altyd prys! (Dele uit Ps. 145)