Gedagte vir die dag | Saterdag 16 Oktober 2021

Spreuke 15:13.  Blydskap laat ’n mens se gesig straal; smart maak ‘n mens terneergedruk.

Daar is net twee soorte mense: dié wat altyd ontevrede is en met gesigte soos donderwolke deur die lewe gaan, en dié vir wie elke dag ’n vreugde is. Is jy ’n sonskynmens, of ’n klakous? Die sonskynmense se lewensvreugde hang nie af van hul omstandighede nie – hul lewens is vol blydskap omdat hulle aan God behoort. By Hom is daar altyd oorvloedige blydskap. Hy is ’n Vader wat vir sy kinders sorg. Uit sy hand kom net wat mooi is. Ek het een van hierdie sonskynmense gevra wat haar geheim is. Sy het ’n rukkie vantevore haar lewensmaat verloor en kort daarna ook een van haar kinders. Hoe kry sy dit reg om elke dag nog te straal van blydskap, wou ek by haar weet. Sy het ’n bietjie gedink. “Ek tel my seëninge elke keer as ek hartseer wil word,” het sy gesê. “Die Here is so goed vir my, ek kan nie anders as om blymoedig te wees nie.”

Vriendelikheid en ’n glimlag kan nie met geld gekoop word nie, maar jy kan ’n verskil in iemand anders se lewe maak wanneer jy met opregte warmte en vriendelikheid na hom/haar kyk, maak nie saak wie die persoon is nie.

Straal jou gesig van God se liefde en genade, of frons jou gesig van die swaarkry van die lewe.

 GEBED

Almagtige Here. Dankie vir al u seën en genade in my lewe. Ek kies om met vreugde te lewe. Mag my gesig straal van u liefde en genade.