Ons het die afgelope week gedink aan een van die grootste beloftes van God aan ons naamlik dat Hy met ons is. Gister het ons ook weer gehoor dat Jesus belowe dat Hy met ons sal bly tot die voleinding van die wêreld. Dit het ons bemoedig, soos hierdie belofte ook telkemale mense in die Bybel bemoedig het.
Dink aan Moses, Joshua, aan Dawid, aan Zerubbabel, aan sy dissipels wat die groot opdrag ontvang het! Telkens hoor verskillende mense op verskillende plekke in verskillende tye die blywende waarheid – dat God Hom nie onttrek het van ons nie, maar dat Hy by ons is.
’n Wonderlike waarheid is ook dat Jesus vir ons sy Gees gestuur het om sy teenwoordigheid by ons te kom bevestig en ’n beslisde realiteit te maak. Johannes se evangelie beskryf dit baie mooi dat Jesus ons nie as weeskinders nalaat nie, maar dat Hy juis sy Gees stuur om by ons te wees en Jesus se teenwoordigheid ’n lewende werklikheid te maak.
Johannes 14:15-17: “As julle My liefhet, sal julle my opdragte uitvoer. 16Ek sal die Vader vra, en Hy sal vir julle ‘n ander Voorspraak stuur om vir ewig by julle te wees, 17naamlik die Gees van die waarheid.” Die wêreld kan Hom nie ontvang nie, omdat hulle Hom nie sien en Hom nie ken nie. Maar julle ken Hom, omdat Hy by julle bly en in julle sal wees.”
Vriende kom ons hou ook aan hierdie grootste waardheid vas: Die Heilige Gees is met ons . . . is in ons om ons te bekragtig en te vertroos, maar ook om Jesus se “bly-by-ons” te ervaar.
Gebed
Here ons dank U vir u Heilige Gees wat U vir ons gestuur het, die Gees van waarheid! U het ons nie as weeskinders agter gelaat nie, maar bly by ons deur die Gees wat in ons is!
Amen.