Matteus 28:18-20: “Jesus kom toe nader en sê vir hulle: Aan My is alle mag gegee in die hemel en op die aarde. Gaan dan na al die nasies toe en maak die mense my dissipels: doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees, en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het. En onthou: Ek is by julle al die dae tot die voleinding van die wêreld.”
Jesus se groot opdrag aan sy dissipels destyds, maar ook aan sy kerk van alle tye, is hier opgeteken. Nadat Hy ’n hele aantal jare saam met sy dissipels rondbeweeg het, gee Hy hierdie opdrag aan Sy dissipels heel aan die einde van Sy bediening voordat Hy opvaar na die hemel toe.
Die Jesus-proses moet voortgaan. Die Evangelie van verlossing, die goeie nuus van die Seun van God wat mens geword het, moet uitgerol word in ’n wêreld wat Hom nie ken nie. Die uitvoerders van hierdie opdrag is ’n paar vissermanne wat Jesus geroep het vir hierdie groot taak. Hulle was waarskynlik baie verbaas en ook benoud oor hierdie uiters groot en belangrike taak wat op hulle rus. Dink net daaraan; hulle moet Jesus se werk hier op aarde doen en voorsit. Soos Hy hulle dissipels gemaak het, moet hulle ook ander mense dissipels maak. Maar dan, volg die woorde van Jesus, die laaste woorde van Jesus wat Matteus opteken in sy evangelie. Dis ’n bemoediging! Vir Sy benoude dissipels destyds, maar ook vir Sy kerk van alle tye, ook vir ons: “Gaan, en verkondig die goeie boodskap van verlossing!” En dan weereens ons tema van die week, die aanmoediging en die mandaat wat hulle het vir hierdie groot taak: “Onthou, Ek is by julle al die dae tot die voleinding van die wêreld.”
Vriende, is dit nie die wonderlikste vertroosting wat ons het, direk uit die mond van Jesus nie? Al voel ons soms ons bereik niks hier op aarde nie. Al voel dit of ons misluk in die taak wat Jesus ons gegee het! Of ons voel dalk soos dissipels, verlate en baie eensaam! Hoor dan weereens hierdie belofte van Jesus, ook aan elkeen van ons; “Ek is by julle al die dae tot die voleinding van die wêreld.”
Ek hoop julle word ook weer vandag opnuut daardeur bemoedig, en bekragtig, wetende dat God saam met ons is.
Gebed:
Here baie dankie vir die groot voorreg wat ons het, om in u diens te mag staan as geroepenes op aarde wat u werk verder moet voortsit. Help ons om ons taak in hierdie verband met waardigheid te voltooi, wetende dat U met ons is, tot by die voleinding van die wêreld.
Amen.