Gedagte vir die dag | Saterdag 9 Oktober 2021

Vriende, van al die geliefde Psalms uit die Psalmdigter se bundel, staan Psalm 23 waarskynlik kop en skouers bo die ander uit. Dis ’n vashou-Psalm!  Dit is ’n Psalm van hoop, en inspirasie.  ’n Psalm waarmee meeste van ons groot geword het en ons het kleintyd al geleer om dit uit ons kop uit op te sê.

Ek herinner my aan die tannie in die tehuis vir bejaardes wat ek besoek het, en wat vir weke nie kon praat met haar geliefdes nie. Toe ek die Psalm vir haar voorlees, het sy vir die eerste keer in weke haar lippe beweeg om te praat en die Psalm agter my aan te sê, of aan te bid. Die afgelope week, kon ek dit ook weer vir ’n ander persoon in ’n ander situasie voorlees, waar hy dan ook bevestig het, dat sy Bybel so te sê vuil gevat is, by Psalm 23.

Omdat ons hierdie week dink oor God se nabyheid aan ons, die feit dat Hy onder alle omstandighede by ons is, lees ek weer hierdie pragtige Psalm, en bid dat die Here dit opnuut sal gebruik om vandag aan jou te bevestig, dat Hy by jou is, waar jy ookal vandag mag wees en wat jou omstandighede of uitdagings ookal mag wees.

Psalm 23: Die Here is my herder

Die Here is my herder, ek kom niks kort nie. 2Hy laat my rus in groen weivelde.  Hy bring my by waters waar daar vrede is. 3Hy gee my nuwe krag. Hy lei my op die regte paaie tot die eer van sy Naam. 4Selfs al gaan ek deur donker dieptes, sal ek nie bang wees nie, want U is by my. In u hande is ek veilig. 5U laat my by ‘n feesmaal aansit, terwyl my teëstanders moet toekyk. U ontvang my soos ‘n eregas, ek word oorlaai met hartlikheid. 6U goedheid en liefde sal my lewe lank by my bly en ek sal tuis wees in die huis van die Here tot in lengte van dae.

 

Gebed:

Here, baie dankie vir hierdie Psalm, wat vandag weer nuut tot my gespreek het. Dankie vir die bevestiging van u teenwoordigheid by my, en dat u teenwoordigheid my bring by waters waar daar vrede is. Dat U vir my nuwe krag gee, dat U bevestig dat U by my is, en dat ek in U hande veilig is.

Amen.