Vriende, ons het in die afgelope paar dae begin gesels oor God se nabyheid in ons lewens. Ons kon alreeds twee gedeeltes uit die Bybel met mekaar deel en beleef dat dit God se grootste beloftes aan ons is. Dit is ook een van die sake wat ons baie naby aan die hart lê; die feit dat God met ons is, dat Hy Immanuel is, en soos Hy vir Joshua belowe het, saam met hom, en ons, die onbekende toekoms ingaan.
Vandag wil ek eintlik niks sê oor die teks nie, maar gaan lees dit, of luister daarna, sodat jy dit stukkie vir stukkie kan oordink en toepas op waar jy op die stadium in jou lewe is. Dit is ‘n baie geliefde gedeelte uit Jesaja, waar die Here met sy platgeslaande volk praat, eintlik moed inpraat, belowe dat ongeag die haglike omstandighede, Hy langs hulle is.
Ons lees saam uit Jesaja 43:1-5: “Luister, so sê die Here wat jou geskep het, Jakob, wat jou gevorm het, Israel: Moenie bang wees nie, Ek verlos jou, Ek het jou op jou naam geroep, jy is Myne. As jy deur water moet gaan, is Ek by jou, deur riviere, hulle sal jou nie wegspoel nie; as jy deur vuur moet gaan, sal dit jou nie skroei nie, die vlamme sal jou nie brand nie, want Ek is die Here jou God, die Heilige van Israel, jou Redder. Ek gee Egipte as losprys vir jou, Kus en Seba in jou plek. Omdat jy vir My kosbaar is, omdat Ek jou hoog ag en jou liefhet, gee Ek mense in jou plek, volke in ruil vir jou lewe. Moenie bang wees nie, Ek is by jou.”
Gebed:
Here, baie dankie vir hierdie ou bekende belofte in Jesaja 43. Ek wil vanoggend weer daarna gryp en vashou aan die belofte dat U hier, by my is. Dankie dat U sê, U is by my, omdat ek vir U kosbaar is, omdat U my hoog ag en my liefhet.
Amen