Joshua 1:5-6: 5“Solank jy lewe, sal niemand bestand wees teen jou nie. Soos Ek by Moses was, so sal Ek by jou wees. Ek sal jou nie in die steek laat nie, jou nie verlaat nie. 6Wees sterk, wees vasberade, want jy moet hierdie volk die land in besit laat neem wat Ek met ‘n eed aan hulle voorvaders beloof het.”
“Praat van stres!” “Ek kan die druk nie meer hanteer nie!”
Hoe bekend het die woord nie in ons tyd geword nie? Elkeen word blootgestel aan situasies van druk en stres waar dit met tye voel of al ’n mens se kragte uitgemergel word om net gewoon met die lewe voort te gaan. Dit was ook van toepassing op Joshua in die Ou Testament. Ons ken die verhaal van hierdie brawe man, wat die groot skoene van Moses moes volstaan, en sy verantwoordelikhede op hom neem. Hy het skielik gehoor dat hy hierdie groot man, die man van God, in wie se skaduwee hy al ’n aantal jare geloop het, moet opvolg.
Dit was vir hom waarskynlik ’n moeilike situasie waaruit hy moontlik probeer uitkom het. Dalk het hy gevra: “Wie? Ek?” “Is daar nie dalk iemand anders wat sy hand wil opsteek nie? Ek weet nie of ek die druk sal kan hanteer om hierdie groot man op te volg nie!” Dan hoor hy boonop dat hy die weerbarstige volk deur die Jordaanrivier moet lei. Arme Joshua! Ons kan ons net indink hoe hy moes gevoel het met hierdie groot taak en verantwoordelikheid wat vir hom gewag het.
En dan, kom die wonderlike belofte van God direk aan hom, in sy benoudheid. Die Here belowe aan hom sy teenwoordigheid. Trouens, Hy sê dat Hy by hom sal wees, net soos wat Hy, God, by Moses was. Dit is sy mandaat. Dit is Sy krag. Dit is wat hom gerus moet maak oor die onbekende toekoms en al sy uitdagings wat voorlê. Die God wat Hom alreeds in die verlede bewys het en wat vir Moses ondersteun het, kom neem ook nou stelling in langs Joshua vir sy groot taak.
Hoeveel beteken hierdie belofte aan Joshua nie ook vir ons vandag nie? Ook te midde van die enorme druk van ons huidige omstandighede in Suid-Afrika en die wêreld, en die groot uitdagings waarvoor ons te staan kom. Om dan weereens hierdie belofte te hoor wat ook vir ons geld. “Ek is by jou. Ek neem stelling in langs jou, om jou te begelei, met my krag, wysheid, leiding, en troos. Altyd, orals, in alle omstandighede. Ek is langs jou, Ek is voor jou, Ek is bo jou, Ek is agter jou, en by jou.
Kom ons hou opnuut ook vas aan hierdie belofte, God wat met ons voorouers was, is die God wat nou by ons is. En ons kan in Sy teenwoordigheid ons druk hanteer.
Gebed:
Dankie Here dat U saam met ons is, soos U saam met Joshua en Moses was. Ons hou vas daaraan, en glo dat U die een is wat ons dag na dag versterk met u teenwoordigheid om ons druk te verlig.
Amen.