Ek lees graag vir julle ’n verwerking van ’n gebed wat die bekende teoloog Dietrich Boenhoeffer in die tronk geskryf het:
Wie is ek? Wie is ons?
Is ek regtig net wat ek in die spieël sien, van myself?
Die broosheid en swakheid,
Die aftakeling en ouderdom, die moegheid en die seer?
Is ek regtig net die somtotaal van alles wat vir my swaar weeg,
Die produk van alles waarvoor ek so lief is;
Van wat ek so graag nog wil doen en wil hê?
Is ek regtig so afgunstig op ander dat ek heimlik bly is oor hulle leed?
Gee ek werklik so weinig om dat ek kan wegkyk van ander se swaar?
Is ek regtig die een wat net ek self ken?
Is dit dan wie ons is, Gees van God?
Of is ek die een wat ander mense sien, en dink dat hulle ken?
Is ons dan regtig wat ander van ons dink?
Wat ander van ons sê?
Hoe ander ons ervaar?
Die stories wat hulle oor ons vertel?
Die name waarmee hulle ons noem?
Die gesindhede wat hulle by ons bemerk?
Die motiewe waarvan hulle ons verdink- en beskuldig?
Is dit regtig wie ons is, o Gees?
Ons dank U dat ons meer is.
Dat U ons ken, soveel beter as wat ons onsself ken.
Dat U ons al geken het toe ons nog in die moederskoot was- en ons toe al bemin het, soos wat ons is.
Dat U ons aanneem as u kinders, ons afwas, ons vernuwe- en ons ’n ander naam gee, o Gees, wat ons leer “Abba” sê –
Ons dank U