Lukas 1:26-28.” In die sesde maand van Elisabet se swangerskap het God die engel Gabriël gestuur na ‘n maagd in Nasaret, ‘n dorp in Galilea. Sy was verloof aan Josef, ‘n man uit die geslag van Dawid. Die naam van die maagd was Maria. Toe die engel by haar kom, sê hy: “Ek groet jou, begenadigde! Die Here is by jou.”
Die Bybel wemel van verhale van eenvoudige mense wat deur God geroep is, mense wat dikwels in hul eie oë glad nie kandidate was om deur God gebruik te word nie. Ons dink aan mense soos: Moses,Jeremia, Dawid, Gideon, Paulus en Maria.
Waarom het Maria die moeder van Jesus geword? Dit kan tog nie wees omdat sy iemand besonders was nie. Sy kom uit die nederige Nasaret, ’n dorpie wat nie bekend was vir sy vooraanstaande inwoners nie. Inteendeel, opgrawings het bewys dat dit maar ’n armoedige plekkie was. Maria was verloof aan Josef wat ook nie ’n vooraanstaande persoon in die samelewing was nie.
Maria was dus doodgewoon en boonop bloedjonk. Sy het geen besondere invloed, vermoë of uitgelese familiegeskiedenis gehad nie. Nogtans gebruik die Here haar om die wonderlikste daad denkbaar te verrig. Sy word die moeder van Jesus. Deur haar word die Seun van God ‘n mens en kom in die gedaante van ‘n mens na die aarde. God gebruik die gewone, jeugdige Maria bloot op grond van sy genade. Dis hoe God met mense werk. Hy kies dikwels die mees onwaarskynlike mense.
Mense is dikwels oortuig daarvan dat God hulle eintlik nie kan gebruik nie. Ons glo God gebruik net die bekwames, geskiktes, aanvaarbares in sy diens. Ons dink God se keuse oor ons nuttigheid sluit aan by ’n bepaalde geestelike kwaliteit of vermoë waaroor ons moet beskik. Die gebrek hieraan diskwalifiseer ons dan om in diens van die Here te staan. Daarom is baie mense daarvan oortuig dat God hulle nooit kan gebruik nie.
Maar tog roep die Here roep vir jou en my. Juis as gewone mense om vir Hom tot diens te wees. Die vraag is of jy, ook soos Maria, tot beskikking van die Here is?
GEBED
NEEM MY LEWE, LAAT DIT HEER,
U GEWY WEES MEER EN MEER;
NEEM MY HANDE, MAAK HUL STERK –
DIENSBAAR IN U GOEIE WERK.
NEEM MY VOETE, SKOEI HUL, HEER,
MET BEREIDHEID TOT U EER !
NEEM MY STEM EN LAAT MY SING;
AAN U, HERE, HULDE BRING.
LAAT MY MOND DIE BOODSKAP DRA:
HUL SAL VIND WAT NA U VRA.
NEEM MY GOUD EN SILWER, HEER,
NIKS NOEM EK MY EIE MEER;
AL MY KENNIS EN VERSTAND
STEL EK IN U VADERHAND.
MAAK MY HART VIR U TOT TROON
DEUR U GEES WAT IN MY WOON.
RIG MY WIL, GEVOEL EN DAAD
ALTYD NA U WYSE RAAD. AMEN