Matteus 18:21-22. Daarna het Petrus na Jesus toe gekom en gevra: “Here hoeveel keer moet ek my broer vergewe as hy iets verkeerds teen my doen? Selfs sewe keer? Jesus antwoord hom: “Ek sê vir jou, nie sewe keer nie maar selfs sewentig maal sewe keer.
Hoe groot is ons kapasiteit om mense se foute wat ons lewens beïnvloed, te hanteer. Ons spreek dikwels die volgende woorde: “Genoeg is genoeg” en “ek het jou al te veel kanse gegee”. Ons sal dit miskien duld om iemand drie kanse te gee, maar sewe is hopeloos te veel. Wat dan nog van sewentig maal sewe keer? Wat staan in ons pad om ander te vergewe? Hoe is dit dan dat ons dankbaar is dat God bereid is om ons sewentig maal sewe keer te vergewe, maar dat ons nie dieselfde voordeel tot beskikking van ander wil stel nie.
Is dit ons ego, trots, of hardkoppigheid? Laat jouself toe om vir ’n oomblik verby die woede vir mense wat jou tenagekom het, te kyk. Wat is dit wat veroorsaak dat jy hierdie gedagte of wrok aanhou koester? Die ontnugtering is dat terwyl die ander persoon die skuldige is, is jy die een wat gevange gehou word. Laat die Here jou help om vandag vry te kom. Neem die besluit om ander te vergewe en deel hierdie vergifnis met hulle. Ervaar daarin hoe jou dag met die wonder van God gevul word.
Gebed
Onse Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word; laat u koninkryk kom; laat u wil geskied, soos in die hemel net so ook op die aarde; gee ons vandag ons daaglikse brood; en vergeef ons ons skulde, soos ons ook ons skuldenaars vergewe; en lei ons nie in versoeking nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.