Gedagte vir die dag | Maandag 20 September 2021

Hebreërs 2:18.  Omdat Hy self versoek is en gely het, kan Hy dié help wat versoek word.

Vanoggend se teks is so duidelik en eenvoudig. God het kom mens word. Hy regeer nie net van bo af oor alles nie, maar het soos ons, mens kom word – om soos ons te kan huil, om soos ons verlate te kan voel, om soos ons seer te kan kry en versoek te word. Ons beleef God in die wonder van die skepping waarin Hy sy krag openbaar, maar ook in die besonder in die gebrokenheid van ons menswees.

Sukkel jy met gewoontes en gedagtes waarvan jy nie ontslae kan raak nie? Dit is vandag waarskynlik vir ons almal ’n groot verleentheid om te erken dat dit deel is van ons menswees. Tog wil die Here ons laat verstaan dat Hy ons wel kan help en het hy die geduld het om saam met ons die pad te stap sodat ons kan verander.  Wanneer hierdie gedagtes dus keer op keer by jou opkom, laat vandag se teks jou die moed gee om versoekings te weerstaan.

 

Gebed

Here, ek probeer hard om nie in my geloofswandel te struikel nie, maar U ken die versoekings wat ek vandag beleef.  Soms lyk die versoeking te sterk vir my.  Die begeertes lyk te kragtig om te weerstaan. Here, help my, ek kan nie alleen wandel nie.  Ek het u leiding vandag nodig. Vul my met die krag van u Heilige Gees om te kan verander.  Dankie vir u geduld en begrip vir hoe moeilik dit vir my is.

Amen