Deur: Louise Rheeder
Sondagaand 22 Maart 2020 het Suid-Afrikaners se lewens onherroeplik verander met die grendeltydperk wat deur president Cyril Ramaphosa ingestel is. In daardie stadium het die eerste skoolvakansie van 2020 pas aangebreek en opvoeders wat met vakansie oor die land heen versprei was, het naarstigtelik planne gemaak om terug te keer. Gou was dit duidelik dat die onderwyslandskap vinnig sou moes verander om voortgesette onderrig te verseker, aangesien die virusinfeksiekoers vinnig begin klim het.
By Laerskool Eversdal het ons sedert 2017 ons eie kurrikulum geïmplementeer – ’n elektroniese kurrikulum wat, gebaseer op die nasionale kurrikulum, ten volle digitaal en interaktief is. Die platform wat die skool gebruik, is Microsoft OneNote, wat ons in staat stel om gedurig nuwe materiaal by te werk, video’s by te voeg en voortdurend inhoud te vernuwe.
Ons droom om ons leerders vir die vierde Industriële Rewolusie voor te berei en vir hulle om te kan groei sodat hulle hul plek as leiers in die 21ste eeu sal kan volstaan, het ’n werklikheid geword en in die beoogde rigting begin beweeg. Covid-19 het noodgedwonge hierdie proses bespoedig, want reeds aan die einde van die eerste week van aanlyn onderrig, het die data getoon dat 98% van ons leerders, tydens onderrig, aanlyn teenwoordig was.
Onderwysers het soggens van 08:00-13:00 interaktief aanlyn onderrig aangebied – ’n bewys dat leer nie gegrendel hoef te wees nie! Die intensiewe opleiding van onderwysers oor ’n periode van vier jaar het gesorg vir ’n gladde oorgang vanaf die klaskamer na die huis. Aangesien die elektroniese platform in die klas, reeds tydens die gewone skooldae gevestig is, was die leerders gemaklik met die oorgang om tuis te werk.
Elke klas het sy eie klasnotaboek op OneNote en elke leerling is geregistreer en georganiseer in Teams. Aangesien die skool ook ’n bring-jou-eie-toestel-program gebruik, kon die skool op tabletonderrig fokus om die kurrikulum te verbeter.
In die grondslagfase het die onderwysers konsepvideo’s geskep wat daagliks op Laerskool Eversdal se YouTube-kanaal geplaas is. Saam daarmee is ’n lesplanuitleg aan die ouers gestuur om te verseker dat die grondslag van verkennende leer nie verlore gaan nie. Ouers is ook versoek om daagliks per e-pos terugvoering en vordering aan die klasonderwyser te lewer. Ouers en onderwysers het ook via Zoom- en Teamssessies vordering bespreek. Ons gaan steeds so voort. Fisiese besoeke is dus nie meer noodsaaklik vir sinvolle kommunikasie tussen ouers en onderwysers nie.
Die graad 4-tot-7-leerders het elke Vrydag via OneNote ’n beplanningsraamwerk met volledige konsepinstruksies en video’s ontvang. Die leerlinge kon dan hierdie platform gebruik om die kurrikulum te ontsluit en aktiwiteite in hul skryfboeke of op OneNote te voltooi. Indien daar in die skryfboeke gewerk is, het die leerlinge ’n foto van die werk geneem en in sy/haar notaboek gelaai, waarna die werk deur die onderwyser nagesien is. Remediërende strategieë en intervensie is dan d.m.v. klanknotas wat in die notaboek ingebou is, gedoen. Hierdie leerders kon hulself ook aanlyn help, want die Yammer-geselstoep is deel van die Microsoft-pakket.
Getrou aan die skool se leuse, Damus – Ons Gee – is al die leermateriaal en video’s ook aan die WKOD gratis beskikbaar gestel sodat ander onderwysers en skole dit kan gebruik.
Ook is ’n hulplyn by die skool geskep waarby enige familielid wat emosionele ondersteuning, fisiese hulp, kruideniersware, of data/toestelle benodig het, kon aanmeld. Op dié wyse is die skoolleuse ook uitgeleef.
Die ouergemeenskap van Laerskool Eversdal is die onbesonge helde in hierdie geoliede masjien. Die ondersteuning, nadat daar aanvanklike teenkanting was toe die skool begin het om die kurrikulum elektronies saam te stel, het ’n naatlose oorgang verseker toe Covid-19 gedreig het om onderrig tot stilstand te dwing. Ouers het saam met hul kinders gegroei en ma en pa het ook besef dat nie almal van hulle goeie onderwysers sou word nie! Ouers en onderwysers bied nog altyd ’n belangrike ondersteuningstelsel om leerders te help floreer en daarom kan die doeltreffende kommunikasie en samewerking tussen die skool en die ouers juis tans meehelp om die sukses van elke leerder op die langtermyn te beïnvloed.
Vanaf die begin van 2021 kon die skool, deur kreatiewe beplanning, al die leerders terug in die skool verwelkom en akkommodeer. Rotasieklasse is geskep en letterlik elke oop ruimte is nou in ’n klasgeeruimte omskep! Klasse se leerdertalle is tot 20 beperk en satellietklasse, met opgeleide onderwysers of vierdejaarklasassistente wat die rotasieklasse behartig. Lesse word na die satellietklasse gebeeldsend en daagliks wissel die groepe, sodat elke groep ten minste elke derde dag by hul registeronderwyser uitkom en deurbring.
Ons visie bly steeds om onderwys en onderrig te transformeer om binne ’n veranderende wêreldwye ekonomie en samelewing, ons leerders te bemagtig om verantwoordelike burgers te word.
Intussen sal Covid-19 waarskynlik nog lank met ons wees.
Hoe het dit ons personeel geraak?
Ons het net weer eens besef dat onderwysers aanpasbaar is! Daar is via Teams vergader, die plan van aksie is ter tafel gebring en onderwysers het digitaal begin klasgee. Wat beslis duidelik geraak het, is dat onderwysers toe harder gewerk het as binne die gewone klassituasie. Nuwe konsepte moes aangeleer word soos om video’s saam te stel ter verduideliking van lesmateriaal en van die kollegas het as akteurs ontpop! Daar is ook langer ure gewerk, want nadat die lesse uitgesaai is, moes daar aanlyn na elke leerder se OneNote-klasboek gekyk word, die dag se werk gemerk en remediëring toegepas word. Leerders wat steeds van die werk nie verstaan het nie, is via Teams of Yammer individueel ondersteun. Baie onderwysers moes ook binne hierdie streng inperkingsmaatreëls nog hul eie huishoudings behartig. Boonop het datagebruik die hoogte ingeskiet, veral waar beide ouers van die huis af gewerk het. Skielik was onderwysers met gesinne in ’n lewe met tuisskool en tuiswerk gedompel! Dit was vir hulle ’n groot uitdaging om te midde van alles ook aan hulle eie kinders aandag te gee.
Leerders
Omdat ons leerders vertroud was met Teams en die onderrig soos wat dit geskied het voor die pandemie, was dit vir hulle ’n seepgladde oorgang. Sommige leerders het selfs sekere dae hul skooldrag aangetrek, net om te voel asof hulle skool toe gaan! Die personeel het melding daarvan gemaak dat sommige leerders, wat binne die klassituasie nooit regtig bereid was om ’n mening te lug nie, skielik uitgesproke geraak het, want hulle kon via Yammer privaat met die onderwyser gesels en hy/sy kon dan in ’n een-tot-een situasie met meer vrymoedigheid reageer. Dit het daardie leerders se selfvertroue ’n geweldige hupstoot gegee en van dié leerders het aan die einde van 2020 hulle gemiddelde prestasie met 10% of meer verbeter!
Wat wel waar is, is dat die leerders die sosiale interaksie met hul maats ontsettend gemis het. Die tuisskool was nie vir hulle lekker nie. Geen buitemuurse aktiwiteite kon plaasvind nie en die leerders het emosioneel baie swaar gekry. Veral die jonger leerders het bang en angstig begin raak.
Teen die einde van 2020 het leerkragte ook opgemerk dat veral ons graad 7-leerders “slimmer” geraak het – hulle het aangeteken vir die aanlyn lesse en dan in die bed teruggespring en verder geslaap. Baie innoverend!
Samevattend
Die skool se leierkorps, asook innoverende denke en visie, het die personeel onbewustelik en onbedoeld voorberei vir Covid-19 sodat ons in moeilike tye en omstandighede kop bo water kon hou om ons leerders toe te rus en voor te berei vir die hoërskool en suksesvolle funksionering binne ’n elektroniese wêreld.
Ons ouers en personeel verdien, saam met die kinders, medaljes vir dit wat bereik is en bou tans steeds daarop voort. Ons is bevoorreg om steeds ons volle kurrikulum aan te bied en is op peil met wat van ons verwag word volgens die beplanning en riglyne van die WKOD. Ons glo dat ons ons leerders die wêreld instuur om hul plek in die samelewing te kan volstaan en die toekoms met vertroue tegemoet te kan gaan.
Ons salueer die ouergemeenskap van Laerskool Eversdal!
| Louise Rheeder is die afgelope 41 jaar verbonde aan Laerskool Eversdal. Sy is tans adjunkhoof van die skool. Sy is ook sedert 1981 ’n meelewende lidmaat van Stellenberg-gemeente.