Om deur ’n vergrootglas na die Covid-19-landskap te kyk

Deur: Dawie Malherbe

Stellenberg-gemeente het oor die afgelope 50 jaar al vele uitdagings in die gesig gestaar.  Wanneer ons terugkyk oor die jare heen,  kan ons met oortuiging sê dat ons met behulp van baie genade nog altyd die uitdagings te bowe gekom het.

Oud en selfs jonk in die gemeente sal egter saamstem dat die impak van Covid-19 iets heeltemal anders is as wat ons nog ooit voorheen mee te doene gehad het.  Die invloed van die virus word in ons huise, by die werk, in die gemeenskap, in ons skole en natuurlik ook in die kerk gevoel.  Daar is allereers die tragedie om mense naby aan ons te verloor.  Dan is daar boonop die eise wat die siekte aan jou liggaam stel, indien jy self siek word.  En al kom jy ongedeerd deur die siekte, hoor ’n mens tog van verskeie mense wat sukkel om van die simptome af te skud en maande later nog fisiese en emosionele uitdagings beleef, wat maar net nie wil verdwyn nie.

Selfs al het jy nie self siek geword nie, moes ons almal leer om met minder klaar te kom – minder sosiale interaksie, minder materiële artikels, minder koestering, minder saamwees by die kerk en ons moes dikwels ons verwagtinge van wat moontlik is, temper.  Wie sou byvoorbeeld ooit kon dink dat ons oor ’n tydperk van 18 maande soms geen, of slegs kleiner eredienste sou kon hou en dat aanlyn kerkbywoning ewe skielik die norm sou word?  Net soos in die kerk, het ons werksplekke en skole ook by tye amper onherkenbaar gelyk.  Verder word ons ook nog met meer onsekerheid, meer inligting, meer opinies en meer spanning gekonfronteer.  Daarom is dit nie ’n verrassing nie dat hierdie tydperk ons almal diep geaffekteer en verander het.  Die hele wêreld moes na ’n ekstra rat soek.  Te midde van alles bly ons hoopvol dat ons lewens weer na “normaal” sal terugkeer,  wetend dat dinge nooit regtig weer dieselfde sal wees nie.

Hoe maak die mense van Stellenberg om hierdie krisis te hanteer?  Met watter planne het ons vorendag gekom?  Hoe het ons geleer om in die tyd te dink en te doen sodat ons steeds balans kon behou?

Hierdie uitgawe van die Stellenberger deel die ervarings van lidmate en rolspelers in die gemeenskap wat ten spyte van die heersende omstandighede, die vermoë ontwikkel het om vernuwend te dink en te doen.  Sommige het uitkoms gevind in die eenvoud en die verminderde gejaag wat die grendeltyd meegebring het.  Dit het vir hulle die geleentheid gebied om hul geloof nuut te ontdek of dit te herbely.  Ander het praktiese planne gemaak, wat ’n verskil in hulle eie en ook in ander se lewens gebring het.

 Stellenberger kyk deur ’n vergrootglas na dié ervarings tydens ’n vreemde en unieke tyd en veral ook hoe ons as gemeente oor 50 jaar heen gegroei en verander het.

 

| Dawie Malherbe praktiseer as sielkundige en is lid van die gemeente se toerustingbediening.