1 Johannes 5:11. En die getuienis behels dít: God het ons die ewige lewe gegee, en dié lewe is deur sy Seun.
Ons ken die hashtags #YOLO (You Only Live Once) en #FOMO (Fear Of Missing Out). Daarmee beaam ons dat daar net een lewe is en dat ons soveel as moontlik moet in hierdie een lewe moet regkry en doen. Volgelinge van Jesus glo egter aan ’n ewige lewe. Die ewige lewe is vir ons ’n moeilike konsep om te verstaan. Die manier hoe ons oor tyd dink, het tot gevolg dat ons die lewe as ’n lyn met ’n begin- en eindpunt beskou. Ons kan nie ’n lewe verstaan wat nooit ’n einde het nie. ’n Lewe sonder einde maak dat ons nie met #FOMO hoef te lewe nie, want daar sal nog ’n geleentheid wees om saam met spesiale mense spesiale geleenthede te beleef.
Het jy geweet dat jy reeds hier en nou al die ewige lewe het? Die ewige lewe begin nie eers die dag as jy sterf nie. In die Bybel lees ons dat wanneer ek God die Vader deur Jesus Christus leer ken en in Hom glo, dat ek die ewige lewe dan reeds ontvang. Met ander woorde wanneer ons ’n persoonlike verhouding met God het, kan ons reeds die ewige lewe beleef. Augustinus stel dit so mooi: “Sluit ’n verhouding met die ewige God en jy sal vir ewig lewe.” Die ewige lewe word dus al hier op aarde verkry wanneer ek ’n geloofsoorgawe aan Jesus maak.
Die wonderlike nuus van die ewige lewe is dat ons eendag saam met God in die hemel gaan wees. In die hemel sal ons nie hartseer, siekte of dood ken nie. Nee, daar sal ons net vreugde, vrede en liefde ervaar. Hoe wonderlik om te dink dat ons hier op aarde al iets daarvan kan ervaar.
GEBED
Here, dankie dat U my die ewige lewe skenk. Mag ek nou terwyl ek hier op aarde is iets daarvan beleef. Mag ek ook leef tot eer van U Naam. AMEN