Gedagte vir die dag | Vrydag 3 September 2021

Markus 11:25. “En wanneer julle staan om te bid, en julle het iets teen iemand, vergewe hom; dan sal julle Vader wat in die hemel is, julle ook julle oortredings vergewe.

Een van die hoogste eise wat aan ons as Christene gestel word, is om mekaar te vergewe.  Mense wat weier om te vergewe soek en kry altyd redes hoekom die onreg wat hulle gely het, te groot is, om te vergewe.  Maar wat hulle nie besef nie, is dat die pyn van hul weiering om te vergewe hulle self veel meer skade berokken. Wanneer ons mekaar nie vergewe nie begin ons wraakgedagtes koester en dit maak ’n mens fisiek en geestelik siek.

Jerry Sittser het sy gesin in ’n ongeluk verloor wat deur ’n dronkbestuurder veroorsaak is. Hy het maande lank geworstel om die man te vergewe. Eers nadat hy dit met God se hulp reg gekry het, kon hy met sy lewe voortgaan. In sy boek A Grace Disguised sê hy dat die proses van vergifnis begin wanneer die slagoffer ontdek dat niks die onreg wat hulle aangedoen is, kan regstel nie. Maar slagoffers kán die lewe kies; hulle kan besluit om te vergewe.

Vergifnis is ’n keuse wat ons maak. Wees geduldig met mekaar en vergewe mekaar as die een iets teenoor die ander gedoen het. Soos die Here julle vergewe het, moet julle mekaar ook vergewe (Kolossense 3:13).  Vergifnis is nie iets wat ons doen as ons so voel nie, maar dit is iets wat ons doen omdat ons Christus se voorbeeld navolg – omdat ons genade ontvang het, moet ons gewillig wees om genade aan ander te betoon.

Wat beteken die woord vergewe? Letterlik beteken dit om die rekord skoon te vee, om vry te stel, om skuld af te los. Niemand word vergewe omdat hy, of sy dit verdien nie.  Vergifnis is ’n daad van liefde en genade. Vergifnis is ’n besluit om iemand nie verantwoordelik vir ’n daad te hou nie, ongeag wat daardie persoon aan jou gedoen het.

Jesus stel vir ons so ’n mooi voorbeeld. Hy het nie alleen al sy vervolgers vergewe nie, maar ook vir elkeen van ons.

GEBED

Vader, ek kies nou om die persoon teenoor wie ek so lank ’n wrok in my hart saam dra, te vergewe. Dankie vir die wete dat vergifnis my sal heelmaak.

AMEN