Teks: 1 Konings 17
Die woord van die Here het tot Elia gekom en gesê: 3“Gaan hiervandaan af ooswaarts en gaan versteek jou in Kritspruit, anderkant die Jordaan. 4Jy kan water uit die spruit drink, en Ek het die kraaie beveel om daar vir jou te sorg.” 5Hy het gedoen soos die Here aan hom opgedra het. Hy het daar in Kritspruit gaan bly, anderkant die Jordaan. 6Die kraaie het vir hom soggens brood en vleis gebring en hulle het vir hom saans brood en vleis gebring, en hy het water uit die spruit gedrink. 7Uiteindelik het die spruit opgedroog omdat die land nie reën gekry het nie.
Daar langs die spruit het Elia net die kraaie gehad om mee te praat, en natuurlik vir God. In die kerk is daar ’n ou tradisie van woestyn, berg en ruwe landskappe. Die landskap word plekke van ontmoeting met God. Mense soek dit op, want hulle besef daar is afleidings in hulle daaglikse leefwyse wat hulle verhoed om stil te word en te luister: Stilte word die plek waar jy jouself weer ontmoet en dalk is dit waarvoor ons bang is.
Dit was ook vir Elia waar, want dit was dieselfde Elia wat later vir God in ’n “fluistering in die windstilte” gehoor het. In ’n ander vertaling word gepraat van ’n “gesuis van ’n sagte koelte”. By die spruit en onder die besembos was Elia nie op plekke waar hy op daardie oomblik graag wou wees nie. Hy het nie doelbewus die stilte opgesoek nie. Tog word dit plekke van versorging en ontmoeting. Miskien moet ons ook so nou en dan die stilte kies. Ek lees graag ’n gebed van G Norris:
When we make room for silence, we make room for ourselves . . . silence invites the unknown, the untamed, the wild, the shy, the unfathomable- that which rarely has a chance to surface within us”.