Gedagte vir die dag | Woensdag 25 Augustus 2021

Hebreërs 12:1-3: “Terwyl ons dan so ‘n groot skare geloofsgetuies rondom ons het, laat ons elke las van ons afgooi, ook die sonde wat ons so maklik verstrik, en laat ons die wedloop wat vir ons voorlê, met volharding hardloop, die oog gevestig op Jesus, die Begin en Voleinder van die geloof.”

“Hou Hom voor oë wat so ‘n vyandige optrede van die sondaars teen Hom verdra het. Dan sal julle nie geestelik moeg word en uitsak nie.”

Vasbyt – ek kan nie aan ’n meer beskrywende woord in Afrikaans is as vasbyt, dink nie!

As mens dit hoor, dan weet jy dadelik hier is deursettingsvermoë ter sprake.  Aanhou, uithou, deurdruk en om jou nie te laat onderkry nie. Ek het vroeër die week, tydens ons gebedsbyeenkoms vir manne, ook oor vasbyt gesels. Omdat daar ’n paar Engelse vriende saam met ons is, het ek nogal gesukkel om hierdie woord in Engels vertaal te kry. Die naaste wat ons daaraan gekom het, was: “endurance” of “perseverance.”

Dit het my laat dink aan die afgelope Olimpiese spele, waar ons die beste voorbereide atlete gesien het, besig om hul sport op die grootste sportbyeenkoms te beoefen. Deurgaans, by alle sportsoorte was  dieselfde “vasbyt” nodig!  Om nie tou op te gooi nie, maar om te probeer aanhou en uithou tot die einde. Tot by die wenpaal. Tot hulle die item voltooi het.

Daar was natuurlik ongelukkig diegene wat dit nie kon doen nie. Dink bv. aan die moordende maraton aan die einde van die Olimpiese Spele, wat moes plaasvind in die uiterste uitdagende weersomstandighede in Japan. ’n Paar van die atlete, insluitend van ons eie Suid-Afrikaanse atlete, kon net nie klaarmaak nie. Die omstandighede en toestande was net te  uitmergelend. Daarom het hulle afgetrek en nie die wedloop voltooi nie.

Natuurlik weet julle nou waarna ek mik as ons die spesifieke teks vandag deel.  Dit gaan oor ons eie wedloop, of die item waaraan ons deelneem, naamlik ons geloofslewe.  Ons geloofsreis, of soos die Bybel dit ook beskryf, die wedloop van die geloof.  Dit is veral relevant in ons tyd met sy eie unieke en baie uitdagende omstandighede en uitdagings.  Dikwels is die uitmergelende situasies waarin ons onsself bevind, persoonlik maar ook in ons gemeenskappe en die land. Ons voel dalk gereeld dat ons by daardie stopteken beland waar ons net nie verder kan gaan nie. Ons wil ophou, tou opgooi en die wedloop laat vaar.

Die skrywer van hierdie brief was baie direk hieroor wanneer hy gelowiges van alle tye aanmoedig om vas te byt!  Te volhard en deur te druk, met dit waarmee ons begin is naamlik die goeie pad van die geloof.

Dalk is jou bene ook vanoggend lam en moeg van sukkel om deur ’n klomp breekpunte in jou lewe te kom.  Miskien is dit ook veral op geloofsvlak, ’n persoonlike geloofsreis waarmee jy  sukkel.  Waar dit soms so moeilik is om die geloof te behou!  Weet dan dat ons daar is vir mekaar.  As groot skare geloofsgetuies, wat rondom ons is, waar ons bymekaar is op die pawiljoen, en ook saam met ons op die baan!  Waar ons saam moet deurdruk en klaarmaak terwyl ons mekaar ondersteun.

Mag die Here deur sy gees aan elkeen van ons, die stamina gee om ons eie wedloop van geloof te voltooi.

Gebed

Here, help my om te volhard, in die geloof. Help my om my wedloop met hoop en verwagting en oorwinning te hardloop, gesteun deur u Gees en ondersteun deur medegelowiges. Amen.