Gedagte vir die dag | Dinsdag 17 Augustus 2021

Gebed en bepeinsing:

Gebed moet iets MET ons doen en nie iets VIR ons doen nie. Ons het in die afgelope week saam gedink oor wat gebed in hierdie tyd vir ons beteken. Die Anglikaanse priester Richard Rohr het gesê dat gebed is vir hom die grootste vorm van bepeinsing.  Gebed moet nie noodwendig vir ons iets gee nie, maar ons lei om te besef wie en wat ons moet wees. In hierdie tyd, waar ons God dikwels vra om ons van Covid-19 te genees asook ’n hele aantal ander dinge in die wêreld te herstel moet ons besef dat God ons gebruik om die verandering te bring.

Ons moet in hierdie tyd dink oor hoe ons moet verander sodat ons self die antwoorde op ons gebede kan word.

In die Onse Vader het Jesus vir ons kom wys dat gebed nie moet gaan oor iets wat in die hemel gebeur nie, maar eerder iets wat hier aan die gebeur is.

Matteus 6:9-14.

9“So moet julle bid: “Ons Vader wat in die hemel is, laat u Naam geheilig word;

10laat u koninkryk kom; laat u wil ook op die aarde geskied, net soos in die hemel.

11Gee ons vandag ons daaglikse brood;

12en vergeef ons ons oortredings soos ons ook dié vergewe wat teen ons oortree;

13en laat ons nie in versoeking kom nie maar verlos ons van die Bose.

14“As julle ander mense hulle oortredings vergewe, sal julle hemelse Vader julle ook vergewe. 15Maar as julle ander mense nie vergewe nie, sal julle Vader julle ook nie julle oortredings vergewe nie.”

Wanneer Jesus vir ons leer om te bid, leer Hy ons dat dit nie net oor die hemel gaan nie, maar oor die koninkryk wat hier gebeur. Gee ons, ons daaglikse brood, so sê Jesus vir ons gebed gaan nie oor vra vir meer nie, maar eerder om hier te leef met wat jy nou nodig het. Jesus leer vir ons dat ons moet vergewe soos ons vergewe word en dat ons iets moet doen uit gebed en nie net moet terug sit en wag nie.

Gebed is om te bepeins oor dit wat ons kan doen sodat ons God se hande en voete kan wees.

Mag jy in hierdie tyd nie sit en wag vir gebed om iets vir jou te doen nie, maar mag jy toelaat dat gebed iets met jou sal doen sodat jy ’n verskil kan maak.

Kom ons bid saam:

Here mag ons u hande en voete wees, mag ons in hierdie tyd die verskil wees wat U in die wêreld wil sien. Ons bid Here dat gebed ons sal lei na verandering sodat ons die wêreld kan herstel.