Gedagte vir die dag | Vrydag 13 Augustus 2021

Gebed en trots:

Ons almal ken die bekende gedeelte uit Spreuke 16:18: “Op hoogmoed volg ondergang, op selfverheffing volg die val.” Ek dink die mensdom sukkel baie met selftrots.  Op sekere gebiede is ons so trots dat ons eerder sal voortgaan om argumente te ondersteun, selfs al glo ons nie meer daarin nie, net omdat ons nie bereid is om om te draai en sê: “Ek was verkeerd nie”.

Toe ek Kaap in 2015 Kaap toe verhuis het, het ek iemand raakgeloop wat ek as 15-jarige kind laas gesien het.  Die betrokke persoon het baie sterk opinies oor ras en geregtigheid gehad. Dit was vir my interessant om te sien hoe die wêreld om ons verander het, maar dat die persoon se denke en persepsies onveranderd gebly het. Ek dink dit is juis omdat so ’n persoon te trots is om te erken dat sy/haar denke tog wel geskuif het. Sulke stereotipiese denke sien ‘n mens dikwels in ons eie geloofstradisies.

In Psalm 3 sien ons hoe Dawid vlug van sy seun, maar in Samuel 1 en 2 lees ons ook hoe Dawid die pad as koning byster geraak het. Die verhaal met Batseba is een waar die Koning faal en vir ons wys hoe feilbaar hy is. Dit is hier waar hy aan die vlug is en hy besef dat hy sy trots in sy sak moet steek. Die Hebreeuse woord vir eer/gewig is “Kavod”.  Dawid het sy eer verloor deur die foute wat hy gemaak het en vir Dawid het eer by homself gelê – in dit wat hy doen en wat hy ontvang. In die Psalm bid Dawid dan tot God en gee die eer aan God terug.

Psalm 3:1-9

1’n Psalm van Dawid toe hy vir sy seun Absalom gevlug het.

2Ek het so baie vyande, Here! Baie kom in opstand teen my.

3Daar is talle wat van my sê: “Van God kom daar vir hom geen hulp nie!” Sela

4Maar U, Here, beskerm my aan alle kante, U herstel my eer en aansien.

5As ek na die Here roep, antwoord Hy my van sy heilige berg af. Sela

6As ek gaan lê, slaap ek goed; ek word ook weer wakker, want die Here sorg vir my.

7Ek is nie bang vir tienduisende mense wat van alle kante af op my toesak nie.

8Kom tog, Here, help my, my God! U het nog altyd my vyande se mag verbreek, U het die aanval van die goddeloses afgeslaan.

9Hulp kom net van die Here af. U laat dit goed gaan met u volk.

In die gebed sien ons hoe Dawid vir God sê dat die mense hom as iemand beskou wat sy eer verloor het.   Hulle sien selfs nie eers meer dat God hom help nie.  Maar dit is in die woorde van vers 4 waar ons sien hoe Dawid besef waar sy eer vandaan kom: “ 4Maar U, Here, beskerm my aan alle kante, U herstel my eer en aansien.” Die Hebreeuse woord Kavod word hier gebruik om te sê dat Dawid se Kavod (gewig en eer) is nie meer afhanklik van homself nie maar van God.

Eerlike gebed gebeur nie wanneer ons nie ons trots kan sluk nie. Ons moet bereid wees om te sê: “ek was/is verkeerd”. Dit is gebed sonder trots wat vir ons help om verandering te bring in die omstandighede waarbinne ons is.

Kom ons bid saam:

Here, mag ons soos Dawid bereid wees om ons trots te laat vaar. Mag ons verander in so manier dat die wêreld ’n beter plek raak. Dankie vir u liefde en genade, dankie dat U ons beskerm van alle kante en ons eer herstel.