Gedagte vir die dag | Dinsdag 10 Augustus 2021

Johannes 14:23. Jesus antwoord hom: As iemand My liefhet, sal hy my woorde ter harte neem; en my Vader sal hom liefhê, en Ons sal na hom toe kom en by hom woon.

Die afgelope tyd het ek deur debatte wat oor die kerk, geloof en godsdiens gevoer word besef hoe maklik gelowiges dit kan regkry om onderskeid tussen verskillende tipe gelowiges te tref. Die een groep probeer dan ook dikwels die ander na hulle kant toe oorhaal. Dit ontstel mense en hulle reageer dan daarop. En so word die gaping tussen gelowiges wat hulle geloof in die een Here bely al hoe groter. Dit raak makliker vir elke groep om die Here hulle God meer lief te hê, maar dikwels ten koste van hulle naaste. Hoe is dit dat ons liefde vir God ons dan so van medegelowiges verdeel?  Om nie eens te praat van die mense buite ons geloofsgemeenskappe nie.  Mag die Here ons help om in ons gedagtes en perspektiewe insig te kry hoe om ons verskille reg aan te pak.

Gebed

Here, ons word dikwels oorweldig deur hoe anders U elke mense gemaak het. Ons verskille is nie maklik om te hanteer nie, omdat ons in die vrees lewe dat ’n medemens my van dit wat vir my kosbaar is, kan beroof. Help my vandag met insig om verskille tussen mense in die lig te sien dat U mense geskep het om juis by mekaar te pas en mekaar aan te vul. Help my om vandag prakties die verskille tussen mense en die emosie daaragter op ’n volwasse manier te hanteer en nie uit vrees of met frustrasie nie.

Amen.