Gedagte vir die dag | Maandag 9 Augustus 2021

Hebreërs 6:12Julle moet dus nie traag word nie, maar die voorbeeld navolg van die wat deur geloof en geduld deel gekry het aan die dinge wat God beloof het.

Die realiteit rakende Covid-19 waarmee ons al ’n tyd saamleef het ons lewens op verskillende wyses geraak. Ek self het beleef hoe dit ’n mens op ’n plek bring waar jy elke nou en dan weer van voor moet begin en dat dit baie uitputtend begin raak het. Ek het besef hoe belangrik dit is om juis in hierdie tyd kop te hou en jouself daaraan te herinner dat jy nie net in probleme en pessimisme moet vas kyk nie. ’n Mens het ’n keuse hoe jy in hierdie tyd wil leef. Die uitdaging om traag te word is groot. Geloof aan die ander kant inspireer ons om deur eenvoudige en praktiese maniere uitkomste te vind. ’n Groot deel van ons geloof het juis soos die teksgedeelte sê met geduld te doen. Bekyk vandag vir ’n oomblik jou lewe en omstandighede van ’n afstand af en beleef hoe die Here jou rustig en geduldig  maak sodat jy dinge in perspektief kan sien.

Gebed

Vertraag my pas, Here. Maak my rustiger. Bring die wilde geklop van my hart tot bedaring deur my verstand met U vrede aan te raak. Dwing my om stadiger te beweeg deur my begrip te gee van die oneindige tyd tot u beskikking. Gee my, te midde van die verwarring van elke dag, die onverstoordheid van u ewige berge. Inspireer my met die begeerte om my wortels diep af te stuur in die vrugbare grond van blywende lewenswaardes.

Amen